
Stel jou voor – jy plant so ‘n paar akker mielies, ‘n paar vrugtebome, en hier en daar ‘n paar lappies sonneblom. Daar is goeie reën, en jou grond is goed, maar iets is fout. Die aanplantsels loop goed die eerste eerste paar maande, en begin selfs blom, maar daar eindig dit.
Jy begin gif spuit. Baie gif, want iewers vreet iets aan jou oeste, nie waar nie…?
Aalwurms. Sulke bokkers……spuit hulle. Okay, twee weke later sien jy maar daar gebeur nog steeds niks nie. Jy dink, wag, laat ons gou by Buurman Faan gaan hoor.
By Faan aangekom, hoor jy die situasie aldaar is maar dieselfde. Wat de…?? Okay, kom ons gaan dorp toe. Dalk kan man ‘n biertjie gou by die klub loop kap, en dan by die ander manne hoor.
By die klub is ‘n doodse stilte. Daar is net een ou ballie besig om glase te was. “Wat is fout?” vra jy.
Die oukêrel trek net sy skouers op. “Bier is klaar,” mompel hy.
Hoe nou…?? Dit kan mos nie wees nie….!
Jy ry maar na die hotel se kant toe. Die verkeer is traag. Daar is byna geen groenteverkoper op straat nie. Iets pla jou, want die prentjie wat jou oë in jou kop op skerm plaas, is nie die regte een nie. Nie een van die bloekombome in die straatlanings blom nie.
“Wat op dees aarde gaan aan?”
Ons ry uit na ‘n ander makker se plaas toe. Op pad soontoe begin daar dinge duideliker word. Sy aanplantings staan almal dik in die blom. Selfs doe akasiadorings blom. By die huis aangekom sien ons hom.
Hy is besig om verskeie houers plastiekhouers agter op sy bakkie te laai. Hy los toe hy ons sin, en kom groet.
“Môre, boys. Wat bring julle die kant van die dorpspad..?”
“Eh-e-e-e…….nee, ons weet nie. Ons probeer uitvind wat gaan aan. Daar is dan byna geen oeste hierdie somer nie….!”
Hy skud sy kop, en waai met die vinger,” Nope, kyk mooi. Kyk waar staan my mielies. Kom kyk hoe loop my vrugtebome.”
Ons loop om na agter. Daar staan ‘n ry houtkiste op tafeltjies agter sy skuur, en daar vlieg ‘n moerse klomp bye rond.
Die liggies begin aangaan.
“Bye?”
“Jip. Bye.”
“Wanneer laas het jy bye op jou plaas gesien, ouboet?”
Bye. Bye wat deesdae op groot skaal deur landbou vernietig word met gifstowwe wat erg by-onvriendelik is. Munisipaliteite wat bye doodspuit. Heuningboere wat die goedkoopste heuning moontlik, invoer, en dit dan met hulle eie heuning meng. Die plaaslike wetgewing vereis slegs ‘n 50% Suid-Afrikaanse heuninginhoud, dan kan jy dit as plaaslike heuning verkoop.
Verwerkte heuning haal deesdae pryse van tot R110 per kilogram. Lekker ou geldjie. Ons wil egter nie weet watse parasiete, peste en plae kom saam met daai cheap, vervalste heuning van China die land in nie. Maar dit maak nie saak nie, né..?
Amerikaanse Vuilbroedsiekte, wat nooit in die land was nie, is nou al vir maande besig om te maai onder Kaapse bye. Jy kan dit nie bestry nie, want daar is geen kuur daarvoor nie. Dit maak niks aan mense nie, maar loop nie ‘n bynes verby nie. En dan spuit ons lustig met die gif ook nog.
Albert Einstein het na bewering gesê dat die dag wanneer die laaaste by op aarde vrek, die mensdom nie meer as vier jaar gaan oor hê nie.
Oordrewe…?
Miskien, maar kom ons kyk wat gebeur as die minimum, tot geen plant op aarde meer bestuif gaan word nie.



