Wanneer die hele wêreld mal word, is dit tyd om Coke te drink…
Ek bedoel, ons leef vandag in 'n wêreld wat stadig, maar seker, besig is om mal te word van die linkerkant af.

Die lewe van ‘n rubriekskrywer kan soms deur die snaakste dinge op ‘n spoor geplaas word. Jy gaan die een week iets van twee donkies lees, en die volgende week dalk iets oor garagepasteitjies en Miranda Orange, en dan: vanoggend se Mercury-koerant. Werklik…?
Ek bedoel, ons leef vandag in ‘n wêreld wat stadig, maar seker, besig is om mal te word van die linkerkant af.
Hulle sê ‘n vis vrot van sy kop af, so dalk is dit gepas om te verstaan dat ons wêreld besig is om vrot te word van Sirië se kant af…?
Wie sal weet..? Die lefties in die VSA wil Coca-Cola ads verban omdat daar witmense in is, die gebruik van sekere woorde is onwettig, maar net deur sekere soorte mense, ander kan dit maar doen, en sekere ideologieë (ook ‘n heerlike verskoning wat mense uitgedink het om allerhande soorte kranksinnighede mee te regverdig) wat deur mense as godsdiens beoefen word, predik moord en geweld, en danksy ons Kersfeeskind El Nino het dit by ons opgehou reën.
Die wêreld se lys van afstootlikhede word net langer en langer, en so ook die lys van sondebokke.
In oom Adolf se tyd was dit hoofsaaklik maar Jode en Rooms-Katolieke gewees, maar nou is die wêreld kwaad vir Monsanto, Coca-Cola, Afrikaners, Japanese walvisvangers, speenkallers, varke (wat het hulle ons tog oooit aangedoen…?) die kleur van iemand se hare, die kleur van my oë, Facebook, skoonma’s, en my persoonlike favourite, politieke korrektheid.
Het ek iets gemis…?
Nou gaan iemand seker weer vir my kwaad wees.
Dis mos soos ons almal deesdae die lewe bedryf. Ons raak die moer in. In die VSA kry jy politici wat ‘n lewe maak uit ander mense se bedonnerdgeit, en die huidige ry van pratende poppe wat dien as die Republikeinse party se presidensiële kandidate is geen uitsondering nie. Waar op die goeie aarde kry hulle mense soos Donald Trump….???
Die Demokrate het daardie groot land die laaste agt jaar in die toilet afgeforseer, en as antie Hilary die Withuis haal nou, gaan sy die ketting trek.
Die spoke van Benghazi gaan daarvoor sorg. Ek kan dink aan ‘n hele paar Yanks wat vandag hulle koninkryke sal opgee vir net een presidensiële presidentskandidaat, want by al die gode en klein vissies daarbuite, daardie land gaan krampagtig gebuk onder die tekort aan presidente wat weet hoe om president te wees.
In die Midde-ooste sit die wêreld en wonder wat gaan aan, die Russe speel cowboys en crooks met die lewens van hulle vegvlieëniers, die Turke soek skuld vir hulle gebrek aan begrip en die res van Navo weet nie wat om te maak nie.
Aap en die twee vlaktedonkies sou hierdie hele wêreld net een kyk gegee het, en vir hulle ‘n ander een gaan soek het. Een waar politieke korrektheid en kulturele marxisme die afgrond in verban is.
Dit laat my nou dink: as mense tog so verskriklik aangestoot raak oor allerhande ou goedjies wat dertig jaar terug nie ‘n tweede kyk sou regverdig het nie, is daar nie iewers ‘n afgrond waar hulle oor in gestoot kan word nie. Vra ma net.
Sela.



