Die pad na 2017 is hier. Hoe gaan ons hom loop..?
Enigeen wat iets van slagveldgidse af weet, sal weet dat die jaar 2016 geen goeie jaar was nie

Enigeen wat iets van slagveldgidse af weet, sal weet dat die jaar 2016 geen goeie jaar was nie.
Twee van ons senior gidse het die lewe gelaat, Rob Gerrard in September, en Ken Gillings ‘n paar maande later. Die besonderhede rondom hul afsterwe is nie belangrik hier nie. Beide van hierdie twee here was weermagveterane, en het ‘n bodemlose put van kennis met hulle saamgeneem graf toe.
Hoe vervang jy hierdie kennisgaping? Jy doen nie. Jy begin weer van voor af, en jy probeer maar om die werk te doen wat nou gedoen moet word. Rob was ‘n Isandlwana en Rorke’s Drift fundi, en Ken Gillings…?
Wel, Ken Gillings het eenvoudig alles gedoen, van Durban af tot aan die voetheuwels van die Drakensberge en hoër.
Ek kan onthou hoe ek altyd Tugelahoogte-toere aan Ken oorgedra het, want daar was niemand wat daardie slagveld kon doen soos hy nie. Nou gaan iemand in sy spore moet instap, want die eerste toere van Pietersheuwel staan voor die deur en wag.
Destyds, toe oom Titch ons verlaat het, het ons net so ‘n bron van kennis verloor, maar toe kon die slagveldgidse soomloos die gaping vul. Vandag sit ons met ‘n gebrekkige administrasie, ‘n departement wat nie regtig weet waarheen hy wil gaan nie, en rowergidse wat dink hulle kan ‘n boek en ‘n bus koop, en daar gaan jy.
Hopelik gaan 2017 ‘n jaar word wat ons weer ambassadeurs van ons roemryke geskiedenis kan word, en nie net produkeienaars wat soveel toere as moontlik jaag om ons laaste bus te betaal nie.
Hopelik kan 2017 weer ‘n jaar word wat ons trots kan wees om buitelandse besoekers in ons dorp te kan ontvang wat nie oor Kentuckybokse gaan val en vir mobiele straatpartytjies hoef te vlug nie.
Hopelik gaan 2017 ‘n jaar word waarin ons so baie reën gaan kry dat Tayside se pompe vir genade by die Bowman se kantoor gaan kom inklok, en hopelik gaan ons ‘n jaar sien waarin Dundee sy regte plek in die toerisme-wêreld kan volstaan.
Hopelik gaan ons ‘n jaar sien waarin toerisme weer die soort van industrie gaan word wat tot R65 miljoen per jaar in die plaaslike ekonomie gaan inpomp, en hopelik gaan ons plaaslike leiers kry wat meer as ‘n idee gaan hê oor wat om te doen dat Noord-Natal nie in sy eie onvervulde drome gaan verswelg nie.
Hier is baie mense wat dit kan doen. Hier is baie mense wat weet hoe om dit te doen. Ons moet net ‘n poging aanwend om die son oor elkander te laat skyn, en dis nou die tyd om daardie fakkel te vat en te loop met hom.
Dis nou die tyd om te verhoed dat toeriste kan sê, of skryf, dat hulle nooit weer gaan terugkom hiernatoe nie, en dis nou die tyd om op te hou dink dat jammersê probleme gaan oplos. Dis nou die tyd om jou vinger uit te trek. Dalk kan ons weer ‘n jaar hê waarin toergidse tot 20 toere ‘n maand doen.



