Die dreuning word harder, en ons staan klaar in die loopgrawe
Baie Suid-Afrikaners is ook gelukkig rasionale mense, wat net in vrede wil leef

Wel, as mens vandag selfs net die minste van sosiale media kan glo, wil dit voorkom asof die wêreld se bekendste bokwagter besig is om te pak vir Dubai.
Hy en sy Gupta-kornuite. Dis ‘n onbegonne taak om selfs net ligweg te bereken hoeveel geld Suid-Afrika al in Projek Zuma bestee het, maar dit wil nou voorkom asof daar meer mense teen hom, as vir hom is.
‘n Ander politieke aartsopportunis wat tans besig is om onder die radar te vlieg, is die politieke seerower, Andile Mngxitama, “President” van Black First, Land First.
Hulle sogenaamde deklarasie wat hulle in Soweto gister uitgereik het, lees soos ‘n Marvel strokiesboek, en is ‘n absolute drogdokument waarin politieke opportunisme en historiese onkunde hoogty vier.
Andile Mngxitama het absoluut geen idee van hoe Suid-Afrika ontstaan het nie, of waar die mense wat hier woon, vandaan gekom het nie. Sy beleidsdokument is alleen gebaseer op op naakte rassehaat teenoor blanke Suid-Afrikaners, en mens wonder of die witmense, wat hy so soomloos van moord op swartmense beskuldig, ooit weet hiervan.
Sy idee oor die konsep van grondbesit is absoluut lagwekkend aan die een kant, maar tog ook kommerwekkend, want hy predik hierdie waansin aan polities-ongesofistikeerde gehore, waarmee hy ‘n broeiende kruitvat skep wat net een ondeurdagte vuurhoutjie gaan nodig hê om te detoneer.
Die mense van Suid-Afrika het hom al egter deurgekyk, veral as jy in ag neem dat hy nie eers 300 stemme in die Nqutu-tussenverkiesing gekry het nie.
As meneer Mngxitama die moeite sou doen om ‘n geskiedenisboek op te tel, sal hy tot sy skok agterkom dat die struggle-konsep wat hy in sy kop het, en die geskiedenis in die boeke soos dag en nag verskil.
Dit laat mens wonder hoeveel van hierdie politiese gladiators in Suid-Afrika huidig werklik ons geskiedenis ken…?
Gaan doen net bietjie projeksie oor wanneer ons voorvaders hier aangekom het, die geskiedenis van Kaapstad, die onstabiele Oosgrens en die ontwikkeling van die Zoeloe- en Xhosa-volkere. Verkieslik uit biblioteke en diesulke institute, en nie wat jou oupa jou weer te vertelle het nie.
Nou word ons vertel dat die grondkwessie uiters sensitief is, maar die feit dat die een party tot hierdie argument soomlose politieke opportuniste is wat die waarheid inkleur met wat vir hulle die dag lekker lyk, bly gerieflikheids-halwe onder die sigbare oppervlakte van die huidige, aanvaarde narratief verskans.
Baie Suid-Afrikaners is ook gelukkig rasionale mense, wat net in vrede wil leef, hulle daaglikse werk wil doen, en die gatkante van kriminele wil sien verdwyn agter traliedeure.



