Polities-onkorrekte gatvolgeit en goeie rugby gaan nie meer saam nie…
Ek is gatvol vir strontsige rugby en buitelandse unies wat nou met verwaande grinnike die wêreld kan meedeel dat ons nie meer toepaslike opposisie is nie

Die laaste asemteug van Vadersdag verdwyn stilweg in die frisserige koue van ‘n Noord-Natalse wintersnag, en ek smeer my polities-inkorrekte gatvolgeit (en ‘n bietjie semantiese vryheid van taal) oor die bladsy wat spottend-kaal voor my oogknip. Dit stu my effense onstuimige gemoed net weer in die rigting van my onmiddellike doel.
Die Woestynrot het in meer as een aflewering hier opstandig gekorswil oor die heen en weer van die politieke harlaboerla in hierdie mismoedige ou township van ‘n land van ons.
Die onregverdigheid en blatante kriminaliteit van die politieke elite is nie eers meer ‘n raaisel nie, maar ‘n gegewe wat in steen uitgekap staan oor meer as een epos, artikel, verklaring en ontboeseming van beswaardes.
Ek is gatvol vir parlementêre mosies van wantroue wat nie die tyd werd is wat dit neem om te doen nie. Ek is gatvol vir disfunksionele munisipaliteite waaronder ons moet leef, en waarvoor ons allerhande uitspattighede met ons belastings en tariewe moet betaal.
Ek is gatvol vir burgemeesters en parastatale Hoof-uitvoerende Beamptes, of CEO’s, wat nie in staat is om ‘n Standerd Twee-klassie bymekaar te hou nie, wat met multi-miljoen rande se goue handdrukke as tuiniers by daardie Groot Shebeen waarvan Brian Molefe nie weet nie, aangestel word, en ek is gatvol vir stukkende mense. Ek is gatvol vir onskuldige mense wat hulself teen vredesbeamptes van die nuwe regime wat totaal buite orde mense intimideer, boelie en rondpluk by straatblokkasies, moet verdedig, en ek is gatvol vir mense wat dink hulle het die Goddellike Outoriteit in 1994 verwerf om my te straf omdat ek te wit, te Afrikaans en te manlik is om by hulle aanvaarde narratief van die sogenaamde struggle in te pas.
Ek is gatvol vir stukkende manne en vroue wat op straat uitgegooi is, of ter wille van opgesluit is, sodat ‘n vorige regime met so min as moontlik eier op hul gesigte op hulle wildsplase, lodges en Stigtings kan gaan aftree, en dan vandag op veilige podiums ontstelde toesprake kan maak oor Kodesa-wigte en -teenwigte wat nie meer inskop nie.
Ek is gatvol vir strontsige rugby en buitelandse unies wat nou met verwaande grinnike die wêreld kan meedeel dat ons nie meer toepaslike opposisie is nie, en ek is gatvol vir morone en politieke opportuniste wat nie behoorlik weet watter kant van die Tugela hulle hulself bevind nie, en dan dink hulle het die knaters om my geskiedenis as leuens te bevraagteken sodat hulle orgie van selfverryking bevredig kan word….?
Nee, meneer. Ons mense het vergeet hoe taai hulle is. En hoe ver hulle al kom. Gaan lees bietjie ‘n regte boek.



