Bell Pottinger en goeie rugby gaan nie meer saam nie..
Ek is heilig oortuig dat ek ten minste twee honderd jaar te laat gebore is

Hierdie luidrugtige weerspannigheid wat oor die slinkse Britse beeldpoetser Bell Pottinger losgebars het, dagteken maar net ‘n klein visuele uitbeelding van ‘n land en gemeenskap wat keelvol is vir buitelandse inmengery en die verwronging van plaaslik staatstrukture om buitelandse elemente se belange te goede te wees.
Ons praat hier van die Guptafisering van die uitvoerende gesag, en die rangskikking van die politieke elite om die spreekwoordelike vleispotte van Egipte. Dis ook interessant om op te merk hoe maklik die nasionale radioluistermassas en die koerantlesers vergeet van Zuma se Nkandla-eierdanse oor geld gespandeer waartoe hy waarskynlik geen reg gehad het nie, en die blitsige, byna impotente woede oor die Marikana-skietery, wat nog nie op enige regstellings uitgeloop het nie.
Plaaslike politieke opportuniste soos Julius Malema, wat maar iets soos 13 jaar oud was toe Nelson Mandela as president ingesweer was, maak die een aanvegbare stelling na die ander, dreig witmense met die dood en skep gonsfrases soos wit monopoliekapitaal, wat hier op een stadium amper die eerste semantiese nageslag van die woord apartheid geword het.
En Bell Pottinger vaar die troebel waters van sosiale media binne, en klompe ou tannies en sonskynsusters word van hulle halfkoue teeketels weggesleur deur vals nuusberigte wat die algemene stembeeste op straat die harnas injaag.
Facebook word evangelie, en ons mense raak verstrik in die semantiese lokvalle van Twitter.
Die donker gange van Twitter en Facebook word besmet met verbale diarree oor wit monopoliekapitaal, een van die skeppings van die Guptas se Britse hansdonkies in London, en stembeeste in Suid-Afrika loop brullend van die een draad na die ander in hulle weikampe en eis dat die plaas aan hulle teruggee word.
Die ongelooflike naïwiteit van kiesers wat randgroepe soos BLF en die sirkusnarre met hulle rooi pakkies ondersteun, word gloeiend heet in die ondeurgrondelike ruimtes van hul gebrek aan kennis van ons geskiedenis uitgegil. Die wêreld lag vir ons, veral die Britse geldbase met hul historiese bande aan die Witwatersrand, en Sir Robin Renwick het nie verniet vir Julius Malema op sy Britse “fact-finding mission” onthaal nie.
Ons het nie meer politici wat ‘n saak vir die toekoms van die land kan uitmaak nie. Die huidige versameling veg en vloek so onder mekaar dat ek nie kan sien hoe hulle my toekoms kan bespreek nie.
Ek is ‘n negende generasie-inwoner van Suid-Afrika aan moederskant, en agt aan vaderskant. My voorsate het al koeie gemelk in hierdie land nog voor die Zoeloes as volk bestaan het, maar ek het hulle grond gevat….?
Tog jammer dat ek voor julle hier was. Ek wonder wat daardie ou San-jagters van 200 jaar gelede sou kon sê as mens hulle kon uit die dood uit opwek aan die voetheuwels van die Drakensberge, waar hulle deur Mzilikazi se koninklike krygers en vryheidsvegters aan stukke gekap is…? Sou graag ‘n vlieg teen daai muur wou wees.
Ek is heilig oortuig dat ek ten minste twee honderd jaar te laat gebore is.
Dan sou ek ten minste die eer gehad het om een van my groter historiese helde, en waarskynlik een van die mees intelligente mense wat ooit in hierdie land gebore is, uShaka KaSenzakhagona, te kon ontmoet.
Die politici van vandag het waarskynlik meer in gemeen gehad met sy Izimpizi as enigiets anders.



