Wanneer oomblikke en momente kante begin kry…
Dis nou kwansuis na waar ek vandaan kom

Daardie onsigbare, en heel enigmatiese land van my voorvaders is op die oomblik nog ‘n put van debat.
Jy sien, elke so af en toe word ek op straat deur mense wat my nie ken nie, aangeraai om terug te gaan Europa toe.
Dis nou kwansuis na waar ek vandaan kom. Nou, ek so graag wou weet wat laat sommige van my mede Suid-Afrikaners dink ek kom van Europa af, en dan ook, waar in Europa kom ek vandaan…?
Daar is nou vir jou ‘n ou vragie, né…?
Dan word daar ook graag vertel dat ek ‘n antieke familieskat iewers het, wat blykbaar in die kelders van ‘n herehuis iewers in hierdie land in Europa (waar ek nou vandaan gekom het, né?) lê. Bliksem. Hoekom weet ek nie daarvan nie?
Nou, die feit dat die straatpredikant wat hierdie opdrag aan my oorgedra het, nie veel weet van sy eie familie twee, drie geslagte terug nie, laat my wonder.
Man kry nogal interessante openbarings as jy net ‘n betroubare geskiedenisboek vat en jy begin hierdie verskillende Suid-Afrikaanse geskiedenisse oor mekaar pasmaak.
Die feit dat my ma se geskiedenis in hierdie land verder terug gaan as Shaka Zoeloe, was vir my so ‘n onsigbare oomblik wat skielik kante gekry het, want sien, my ma se familie het al in hierdie koeie gemelk nog voor Shaka gebore was, en dit was in die laat 1600’s. Siende dat Shaka eers in 1787 min of meer gebore was, né…?
Ek het voorsate wat mekaar al in die dae van die Swellendamrepubliek op ‘n knop gejaag het, en daardie harregat ou vroutjie van my, met haar bruisende Hugenootse temperament, se ou stamvader aan moederskant (dis nou daai mal Prinsloos), en verskeie ander Afrikaners was na die Slagtersnekrebellie in 1815 op Robbeneiland gevange gehou as bannelimge lank voor die wêreld ooit van Nelson Mandela gehoor het.
Nou ja… Daardie brabbeltjie wat die eerste Hollandse matroos moes inspan om met Khoi-strandlopers te probeer kommunikeer, is die eerste oorsprong van Afrikaans.
Weet jy hoeveel Khoi-woorde daar vandag nog in Afrikaans voorkom?
Ek het nuus vir die huidige groep lawaaimakers wat onder die indruk verkeer dat my voorsate as Afrikaners na hierdie land gekom het. Hulle het nie. Hulle het as Duitsers, Franse, Skotte, Engelse, Iere en die Vader sal weet wat nog, na hierdie land gekom. Nou waar kom die Afrikanerding dan vandaan…?
Die eerste opgetekende oomblik waar ‘n kolonis na homself as ‘n Afrikaner verwys het, was in Maart 1707, tydens ‘n opstoottjie in Stellenbosch. Toe magistraat Johannes Starrenburg die opstandiges aangepraat het om op te hou, het ‘n blanke tiener met die nam Hendrik Biebouw gesê, “Ik ben een Afrikaander – al slaat de landdrost mij dood, of al zetten hij mij in de tronk, ik zal, nog wil niet zwijgen!”
Daar het jy dit. Gooi daarby saam die Britse setlaars van 1820, wat primêr vir die skepping van die wolindustrie in hierdie land verantwoordelik was, en dan het jy nog ‘n oomblik wat kante gekry het.



