Skebengastadsrade, rooistrepe en die gebruikte kondoom
Dis duidelik dat die manne nie te honger was nie, of hulle het dalk geen smaak vir stadsraadslede nie

Ons het nou wel die vorige keer so effe na kannibale geloer in hierdie spasie, maar ek sien daar loop nog sekere stadsraadslede in die dorp rond.
Dis duidelik dat die manne nie te honger was nie, of hulle het dalk geen smaak vir stadsraadslede nie. Gemeet aan die huidige kabaal rampokkers wat nou maak of hulle Dundee se belange op die hart dra, sou ek ook nie aan een van hulle wou eet nie. Mense kla steen en been oor gebrekkige wetstoepassing, die byna totale gebrek aan verkeerspolisiëring in hierdie dorp, en die skouerophalende toespassing van munisipale bywette. Dit wal darem voorkom of hierdie klomp hansworse hierdie week daarin kon slaag om een vergadering te hou.
Ek wonder of daar ooit ‘n notule op die munisipaliteit se webwerf geplaas geraak het hierdie jaar…?
Maar mense ry splinternuwe bakkies en baie mooi karre. En daar is alweer ‘n ander persoonlikheid in die stoel van die munisipale bestuurder.
So gaan die speletjie van musikale stoele net aan en aan, en selfs nie eers die wanhopige pogings van ons dapper belastingbetalersverening kry iemand in koers gepluk nie. Gelukkig word daar darem nog vuilgoed verwyder. Mense wil amper sê dat die munisipaliteit hierdie dronkneste in elke stukkie oop ruimte in hierdie dorp ooglopend toelaat, sodat die res van die menigte ‘n ou joppie kan kry om die drek te gaan optel as die stembeeste klaar gejollifikasie en gefornikeer het.
‘n Vlaag van inbrake en diefstalle in McKenziestraat het dit sindsdien duidelik gemaak dat skebengas ons dophou vanuit hierdie Hoernes van Aphrodite in Coronation Park, en die groot beloftes van “cleaning up social ills” was net ‘n koorsdroom van ‘n vorige munisipale bestuurder.
Al gesien hoe staan en sitsuip die nasie onder die bome en langs karre in Karellandmanstraat..? Ry net een of twee keer in Karel Landman op en af, hier so na vier in die middag, en jy sal sien hoe staan die manne met die kanne in die hande, veral daar oorkant Jeff’s. Dan praat ons nie eers van McPhail- of Coronationpark nie. Die oerwoudritmes bons weg van huise se vensters soos wat die CD’s op breinverdowende dromme en dieselfde klanke oor en oor vashaak, maar dan gee die plesieriges nie meer om nie. Die Heineken begin trek, die volk skyt rondom die rolbalklub en teen bome en bakkiedeure, en oral in huise sit knorrige eienaars en gewere laai.
Meneer die Burgemeester, jy wil nie hoor of luister nie, en een dag gaan iemand duiwel vat, dan loop die bloed. Veral as van die dronkgatte weer probeer om inwoners te intimideer. Mooipraat help lankal nie meer nie, nie eers die polisie luister nie. Eendag gaan een of ander idioot, (wat 60% van die tyd nie eers in Dundee bly nie), sy kar hier aan ‘n boom ophang, of deur ‘n muur bars, ‘n leë drankbottel oor die verkeerde muur slinger, en dan is daar groot moeilikheid.
Maar julle wil verdomp nie hoor nie. Moenie agterna kom kla as die skote begin klap nie.



