BlogsDie WoestynrotOpinion

Boerekommando’s, draadkanonne en die burgemeester

Die volk raak kultureel, met die burgemeester heel voor, in sy "Joseph and the amazing Technicolour dreamcoat" suitjie

Met nog ‘n Talana Live! Agter die rug, en ‘n heel lekker een daarby, kom ons mos toe baie luid terug na die waarheid toe wanneer ons die dorpstrate inry.
Dis nou daar van die berg se kant af. Die Boere pleeg kultuur, onder die geleerde hand van die kommandant, wat al die pad van Nelspruit af met die perd gery het om teen Talanaberg te kom vleisbraai.
Met die jaarlikse dorpsparade staan al die mfanas nader om foto’s op hulle selfone te neem toe die Engelse, Zoeloekrygers en die Boerekommando die hoofstraat afkom. Die volk raak kultureel, met die burgemeester heel voor, in sy “Joseph and the amazing Technicolour dreamcoat” suitjie. Al te fraai. Selfs Patrick het uit sy bomskuiling gekom.
Behalwe in die agterdorplike woongebuurtes.
Daar vier Heineken en Johnny Walker Black nog fees, want al die geregsdienaars in die dorp is by die Talana-fees.
Ek sê nogal so ewe vir die Bowman dat sy foto’s wat hy nie die hoofstraat neem, baie historiese dokumente gaan word, en nie omdat Nubiër, Moor en Indiaan vrolik onder die Vierkleur die straat afstap, met die burgermeester voor in die koor nie. Glad nie.
Nee, dis omdat hy foto’s geneem het van munispale verkeersbeamptes, in uniform, in die hoofstraat, wat werk. En dit sommer alles helder oordag, ook. Bloedvannerwalt.
Dis darem tog te erg dat die manne net oortyd mag kry as die Boere marsjeer, en nie as die gepeupel en die ongewasde massas daarbuite in die Hoernes van Aphrodite hoereer en rumoer nie.
Dit raak dalk tyd dat ons van ons bol-in-die-broek benadering afsien, en ons probleme hier self beginne oplos. Soos om hierdie ongewensde konsertgangers met eie geweld uit die parke te verwyder, klippe te pak en gate te grawe dat hulle nie met hulle smokkel-BMW’s en opgezoepte Volkswagen Golfs by die park kan inry nie.
Veral daai moegoes wat hulle petrolpedale ontdek nadat die Heineken begin trek het, en daai enjins se rewolusies opjaag dat jy hulle anderkant die Buffalo kan hoor. Elke naweek, en partykeer sommer deur die week ook.
Die polisie is ook net vir die show hier, en ons hoor hoeka daar het laasweek een dag net drie van hulle aan diens geboek. Lekker, man, lekker…
Dit laat ‘n man nou wonder wat het hulle gedink toe die manne so met die Lee Metfords in die straat afmarsjeer. Ek is seker ons distriks-vuurwapenoffisier het sulke swart kolle voor haar oë begin kry soos die onbegryp oor haar bewussyn kom lê het. Man behoort eintlik die wetgewers te prosedeer as hulle die lewe vir ons beamptes so moeilik maak, weet jy…?
En laat ons tog maar nie wonder oor die laaste kabinetskommeling nie. Ek hoor vandag dis alles Putin se skuld. Jan moet sy gat aflag daar waar hy nou sit, en dan wil ek nie eers hoor wat oom Hendrik te sê het nie.
Dis leeuwêreld. Man moet maar kyk waar hy trap.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Northern Natal News in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button