
Kyk, my ou vader het altoos altyd gesê dat man nie haastig moet raak met stadige dinge nie.
Die dae van 22 en 23 Januarie sal altyd ‘n dag van grootse herinnering en nagedagtenis in Noord-Natal wees, wat ookal die politieke situasie daar, of in die land self mag wees.
Ons lewens sal altyd aan ‘n staat van verandering onderworpe wees, want die lewe is dinamies, en sal nooit stagneer nie. My skoonseun Kyle en dogter Natasha het my so nege maande gelede ingelig dat sy swanger is, en ek kan onthou dat ek vir ‘n paar sekondes gehuiwer het oor die nuus.
Want sien, (moenie laat my ou Afrikaansonderwysers sien ek begin ‘n sin met want nie….!!!) Natasha was al klaar 30 jaar oud, en iewers in my onderbewussyn het ‘n gedagte bly roer dat indien ‘n vrou al in haar 30’s is, nuwe baba’tjies problematies mag wees.
Wat sou ek dan tog nou weet van die ou sakie…?
Vanya, ‘n kollega, het ons skouspelagtig verkeerd bewys met die geboorte van haar seuntjie, en sy was ouer as my Goggakind.
Ek was, wat die nuwe babatjie aanbetref in ietwat van ‘n newel, want sien, my dae van sulke dinge was só ver weg in die dowwigheid van die verlede, en toe die kinders my nou twee dae terug laat weet, dis nou sulke tyd, slaat die werklikheid my met voorhamerhoue tussen die oë, op die agterent en op my bek. Sommer drie houe tegelyk, vertel dit nou verdomp oor.
Halfvyf daardie oggend, toe sy ingaan vir die bevalling, toe patrolleer ek al die gange op en af deur die huis.
Die herdenking van Isandlwana en Rorke’s Drift was op die horison, en my kop se gedagtes het loop vashak by 139 man agter ‘n ry mieliesakke.
Met daai eerste vroegoggendkoffietjie sê ek al vir my ou ghibbes dat die kind nou al op die kraamtafel moet lê, en ek is benoud. Verdomp seriously benoud, en die skietgebedjies gaan op soos troosgedagtes.
“Heretjie, tog, lat sy orraait wees, asseblief ou Grote…”
Toe Olivia Isobel se eerste foto, waar haar ma haar vashou, met al die drade en pype nog aan haar vas, op my foon verskyn, toe verloor ek dit.
Kyle Whatsapp ‘n paar foto’s deur, en ek begin bewus word van ‘n driftigheid wat stadig maar seker in my opstoot. ‘n Dag later het die eerste video’tjie ook deurgekom, en ek weet toe dat ek ook agter daai mieliesakke sal loop staan as hierdie ou lewetjie se toekoms dit vereis. Verdomp doodseker van daai een. Dan begin ‘n ander gewaarwording ook stoei vir ‘n plek. Oupas is veronderstel om kleinkinders te bederf, en sommer goed te bederf ook.
Dis waar ek mos nou my tande begin slyp om myself reg te kry om hierdie klein lewetjie welkom te heet in my wêreld, en aan haar te vertel dat sy okay sal wees vir solank as wat ek daar is.
Dis wat oupas doen.



