Rugbystories, speelgoed en die tyd van die leerrugbybal…
Kyk, ons het nie gewen nie, maar ons het daai klomp Britte bietjie rondgestoot

Dinge is nog steeds in rep en roer, die mensdom is maar ‘n rare spesie, en Manchester United gooi flikkers vir PSG se Marco Verrati. Ek wonder of die Bowman weet dat Jose Mourinho beter opsies vir sy verswakte middelveld soek….?
Hoehaaa….! Na die onverteerbare flop waarin Rassie se eerste wedstryd as afrigter loop staan en uitdraai het, (ek sweer ons het meer toeskouers by die ou Suidwesgames gehad…!!!) raak dit nou heeltemal ‘n smaaklike opsie om na Europese sokker te beginne kyk.
Dis nou as jy moet kyk na ‘n konferensie vol rykaards en bedorwe brokkies wat rondhol en ‘n ronde bal skop.
As ek moet terugdink aan die bruisende, elektriese opwinding in die lug wat ons destyds met rugbywedstryde op die ou Suidwesstadion ervaar het, veral in die ou dae toe Jan Ellis nog Suidwes se kaptein was…. Bloedvannerwalt…
My oorlede ou moeder, wat daardie jare nog ‘n formidabele vrou was, kommandolid, politikus, straatvegter en demonstrant au extraordinaire, het dan saamgegaan, en sy het so opgewonde geraak as Andre Stoop aan daardie bal geraak het, dat ek dag die ou antie gaan ‘n floute kry.
Ons het nooit ‘n Saterdag gemis nie.
Nooit, nooit nooit nie. Daardie middag toe ons teen die Britse Leeus speel, het Gareth Edwards hier onder my neus kom druk, en ‘n paar minute later het Jan Ellis, met daai ou leerbal in sy een hand vasgeklem (hy was die enigste man wat ek van weet wat ‘n rugbybal oor drie nate kon toevat…!).
Kyk, ons het nie gewen nie, maar ons het daai klomp Britte bietjie rondgestoot. Ek sal in my lewe nooit daardie kwarteindrondte teen WP op Nuweland vergeet nie.
Dis ‘n rugbygame wat in my geheue uitgebrand is soos ‘n ou boyfriend se naam op jou vrou se boud uitgetatoeër. Regtig. Agtien minute voor die einde was ons nog 21 – 6 agter. Toe Sean McCulley vir daai drie onder die pale oorgaan, het ou Calla Scholtz die mooiste poepie in sy hele loopbaan geruik.
Suidwes se pak voorrye het soos die Rots van Gibraltar gestaan, en groot WP-manne soos Carl du Plessis het maar net hulle koppe geskud.
Daai skoppie van Basie Buitendag oor die skrum, en Gerhard Mans gaan pik daai vyf punte op terwyl Carl Doep vandag nog wonder wat het gebeur.
Tagtig minute se kookwaterrugby, sprankelrugby, diamantrugby, biltongboerrugby, wat Suidwes met 24-21 laat wen, en my lewe met ten minste ses maande verkort het. Zegen Vader, daardie aand kuier ons, vier ons, suip ons sewe muskeljaatkatte per uur uit ‘n rolbos uit…!!!
Dis hoekom Louis Luyt destyds gesê het dat Suid-Afrika se Curriebekerspanne gaan speel ‘n toets in Suidwes, en nie ‘n provinsiale game nie. Jannie Breedt het dalk nou nog nagmerries soos Willem Maritz en ou Sarel Losper hulle afgeknou het.
Ek weet daai (skelwoord deur redakteur verwyder) van ‘n John Robbie sal daardie game nooit vergeet nie.Vandag moet ek oorweeg om eerder Bayern Munchen games te gaan kyk as ek weer daardie soort van fix wil hê.
Ek het nou nie ‘n laaitie gehad om saam te vat rugby toe nie, maar my rugby saam met my outop, en ou Petra sal vir ewig in my stories bly staan. Saluut…



