Padrit toets ma se geduld tot die uiterste
’n Ma deel haar eerlike, humoristiese belewenis van ’n rit saam met twee tieners.
Daar is niks soos ‘n vyf-uur lange rit saam met twee tieners om jou geduld tot die uiterste te toets nie. (Okay, ek moet bylas dat hierdie rit gebeur het toe hul albei nog redelike jong aanhangsels was.) Aan die een kant het jy die Dude, die energieke tornado van drama, die tipe wat jou van die eerste minuut van die rit laat wonder waarom jy ooit gedink het of kinders regtig jou ‘droom’ kon wees. Aan die ander kant sit die Feisty een, jou kalm en chill aanhangsel, wat jou met elke woord wat jy sê stilweg beoordeel soos jy die perfekte kombinasie van stemtoon en volume probeer balanseer.
Voor mens nog die straat uit is, weet jy al dat vandag gaan jou karakter gevorm word. Jy het nog nie eers die radio of Bluetooth uitsorteer nie, of jy voel al hoe die twee aanhangsels jou begin toets. Jy vat ’n sluk koffie en probeer onthou dat jy jouself belowe het dat jy vandag kalm sal bly, geduldig en gefokus sal wees. Maar in my geval, glimlag die lewe terug met ‘n ‘wel sterkte’.
Die rit begin goed. Jy het koffie, jou stem is opgewek, almal lyk rustig. Vyf minute later ontplof die Dude se drama, “Hoekom ry jy so stadig?!” “Hoekom speel julle daardie liedjie?” “Hierdie kar is te klein vir my!” Alles binne die eerste tien minute…
Jy kyk in die truspieël en sien sy arms gaan dramaties op, asof hy in ‘n toneelstuk speel waarvoor jy glad nie oudisies gehou het nie. ’n Mens wonder half hoe iemand soveel energie kan hê nog voor die dag behoorlik begin het. Ek belowe jou, as die Dude ooit op ’n verhoog beland, gaan ons kaartjies vooraf moet bespreek.
Die Feisty een? Sy sit stil en gooi net daai ‘judgy’ kyk wat sê, “Mamma, jy klink soos ‘n weerligstraal – skel en hard. Haal asem.” Jy probeer lag, maar haar side-eye blik laat jou vinnig besef dat niks wat jy sê haar van mening gaan laat verander nie.
Sy sit arms gekruis, een been oor die ander, so rustig soos iemand wat reeds klaar is met die wêreld se drama. Sy het die houding van iemand wat al deur oorlog gegaan het, maar besluit het stilte wen altyd. Haar gesig sê nie veel nie, maar haar oë praat volumes.
Die volgende uur is ‘n mengsel van die Dude se eindelose vrae… “Is ons al daar?” “Hoekom is dit so ver?” “Kan ons ‘n pitstop maak?”…. teenoor die Feisty een se stil beoordelende death stare looks. Jy besef dat hy jou judge en selfs jou asemhaling monitor. Dit voel asof jy eksamen moet skryf en nie geleer het nie.
Hier en daar probeer jy die atmosfeer lig. ’n Grap. ’n Liedjie. ’n Interessante feit oor ’n plaas wat julle verby ry. Niks. Die Dude ignoreer dit en gaan aan oor hoe lank hierdie martelrit voel. Die Feisty een kyk eenvoudig by die venster uit soos iemand wat reeds klaar besluit het sy gaan later vertel sy het alles in waardigheid deurstaan.
Die laaste halfuur verloop ietwat rustiger. Die Dude het uiteindelik stil geraak, moontlik omdat hy moeg is vir sy eie drama, of omdat hy slaap. Die Feisty een het haar kop teen die sitplek laat leun en gee jou ‘n klein glimlaggie. Jy weet presies wat sy dink, “Jy het dit gemaak.” En ek weet dat sy in haar gedagtes dink dat die Dude eintlik sy drama vanaf my gekry het, dus vermy ek eerder om weer in haar rigting te kyk.
Daai klein glimlaggie voel soos ’n goue medalje. ’n Gewone mens sou dit miskien nie raaksien nie, maar jy ken haar. Dit was erkenning. ’n Stil, sagte ‘Goed gedoen’. Jy vat dit. Al is dit net ’n half millimeter lipbeweging.
Ek sit en dink so by myself dat ek volgende keer net ‘n trippie mall toe sal kies. Maar diep binne weet ek dat hierdie rit, met die Dude se chaos en die Feisty een se stille oordeel en side-eye kyke, presies die herinneringe is wat ek sal koester. Of in elk geval, sal ek dit later kan oorvertel as ‘n horror storie… met ‘n groot glas wyn in die hand.
En wanneer die huis se deur uiteindelik agter jou toeklap en jy jou skoene uitskop, kan jy nie help om te glimlag nie. They are a lot. Maar hulle is jóú ‘lot’. En hierdie chaos is op een of ander manier deel van die mooi – it is what it is!
ALSO READ: Van handjies vashou tot stuurwiele reguit hou
The news provided to you in this link comes to you from the editorial staff of the Vryheid Herald, a sold newspaper distributed in the Vryheid area.



