Van handjies vashou tot stuurwiele reguit hou
’n Eerlike kyk na die oomblik wanneer ouers besef hulle moet leer om hul kinders te laat begaan.
Hoe vertrou ’n mens jou aanhangsels? Toe hulle klein was, was dit maklik. Ek was soos ’n eenvrou-sekuriteitspan… handjies vashou in die parkeerterrein, handjies vashou by die trappe, handjies vashou op die stoep van Ouma. Ek het soos ’n back-up danspartner agter hulle geloop toe hulle hul eerste treetjies gegee het. Ek was reg om enige oomblik my arms uit te gooi en hulle weer op hulle voete neer te plant soos ’n rugbyspeler wat ’n bal red. Ek het geweet hulle is veilig, want ek was daar.
Daardie selfde ‘ek sal jou vang’-energie het gemaak dat hulle my vertrou. Hulle het geweet dat as die lewe hulle ’n dwarsklap gee, sal ek hulle weer optel en die eina soen en ‘n pleister opplak.
Maar nou het die situasie omgedraai. Skielik moet ek hulle vertrou. Nou klim hulle al agter die stuurwiel in. Ek sit in die kar en skiet ‘n gebedjie op want ek moet hoop hulle gaan nie in die eerste boom vasry nie. Ek vertrou nogal die dude agter die stuurwiel of eerder, ek vertrou hom so halfpad sonder om my asem op te hou. Maar die feisty een? Sy is vir my ’n ander storie.
Die ander dag, op pad huis toe van die hospitaal af, vra sy om die stuurwiel te beheer vanuit die passasiersitplek. Ek ry stadig, want ek is mos nie heeltemal mal nie, en laat dit dus toe. Toe ek in haar rigting kyk, sit sy egter by die venster en uitkyk en vertel my van ’n skaap of ’n wolk of iets daar buite. Sy kyk glad nie eens pad toe nie. Ek gil-giggel soos iemand op ’n mallemeule en herinner haar dat sy eintlik die stuurwiel vashou en ons lewens nou in haar hande is. Sy kyk my aan soos iemand wat pas uit ’n droom wakker geword het en sê doodluiters, “O ja, ek het vergeet.”
Dis daardie oomblikke wat my ’n klein bietjie nervous maak. Jy voel skielik hoe jou hande weer wil uitgaan om hulle te vang maar hulle is nie meer klein nie.
En tog weet ek… ’n dag gaan kom wanneer ek sal moet laat los. Ek doen dit mos nou al halfpad, of ek probeer at least. Ek vertrou hulle reeds met klomp dinge. Die dude is ’n uitstekende shopper. Hy maak my lewe makliker. Ek stuur hom winkel toe wanneer ek vergeet het om iets te Sixty60. Hy kan nogal sy tyd vat want dis mos lekker om met ma se kar rond te karjakker, maar ek laat hom begaan.
Maar die feisty een? Ek weet nie of ek al heeltemal daar is nie. Sy is ’n loskoppie, sy verdwaal sommer in haar eie gedagtes en dagdrome. Dis nie ’n slegte ding nie en eintlik hou ek van daardie vryheid in haar. Dit maak dinge net effens meer ingewikkeld wanneer jy probeer om haar te vertrou met sekere take.
Ek dink dalk dis hoe ouerskap werk… jy begin deur hul handjies vas te hou en jy eindig deur jou asem op te hou… en stilletjies hoop jy dat hulle die stuurwiel reguit hou – it is what it is!
ALSO READ: Wanneer die masker jou pas, trek hom aan
The news provided to you in this link comes to you from the editorial staff of the Vryheid Herald, a sold newspaper distributed in the Vryheid area.



