Wonderfontein-ontwikkeling gaan voort: Minister moet nou antwoord
"Die Metsimaholo-munisipaliteit is nie eens in staat om die dorpe waarvoor hulle alreeds verantwoordelik is te onderhou nie, maar wil ’n hele nuwe dorp ontwikkel, het Jaco Grobbelaar, AfriForum se hoof vir die sentraalstreek, gesê.
Die Wonderfontein-ontwikkeling tussen Sasolburg en Vanderbijlpark gaan voort nadat AfriForum die Metsimaholo-munisipaliteit en die Departement van Menslike Nedersettings vroeër voor die hof gedaag het oor die ontwikkeling, en die munisipaliteit toe beveel is om die ontwikkeling onmiddellik te staak totdat uitstaande nakomings maatreëls, soos vereis deur die tribunaal, nagekom is.
Die burgerregte organisasie, AfriForum, eis nou in ’n brief aan Mzanele Nyhonto, die minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, antwoorde oor waarom die Vrystaatse Departement van Menslike Nedersetting se aansoek om vryskelding – met betrekking tot die Wonderfontein-ontwikkeling tussen Sasolburg en Vanderbijlpark – toegestaan is.
Dié goedkeuring volg nadat die departement vir vyf jaar versuim het om aan vereistes te voldoen wat deur die Metsimaholo Plaaslike Munisipale Beplanningstribunaal uiteengesit is. Die aansoek vir vryskelding is gebring van nakomingsbepalings volgens artikel 43(2) van die Wet op Ruimtelike Beplanning en Grondgebruikbestuur (Wet 16 van 2013).
AfriForum sê in n verklaring wat op 11 April uitgereik het, dat die minister sewe dae tyd gegee is om redes vir sy besluit te verskaf,
Die ontwikkeling is in Februarie vanjaar tydelik stopgesit. Dit het egter spoedig ’n wending geneem toe die Departement van Menslike Ontwikkeling ’n aansoek aan die Direkteur Generaal van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling gebring het nadat die tydperk om aan die vereistes te voldoen, verstryk het.
Die munisipaliteit het aanvanklik vyf jaar gehad om aan die vereistes te voldoen en indien dit nie nagekom word nie, moes die munisipaliteit hul ontwikkeling staak of goedkeuring by die minister kry vir vryskelding van die wetgewing om met die ontwikkeling voort te gaan.
Die aansoek is op 6 Maart toegestaan waarna die munisipaliteit en die Vrystaatse regering onmiddellik met die ontwikkeling voortgegaan het.
Die minister mag vryskelding gee indien dit in die publiek se belang is.
AfriForum is egter van mening dat die minister se besluit teen publieke belang is, en wil daarom die redes weet waarop die besluit geskoei is om die ontwikkeling te laat voortgaan.
Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se hoof vir die sentraalstreek, is die minister se besluit nie deurdink nie en geneem sonder om die nagevolge in ag te neem. Grobbelaar sê die minister het ’n oningeligte besluit geneem sonder om die implikasies wat dit vir die gemeenskap en omgewing mag inhou, in ag te neem.
Hy sê die munisipaliteit kon in vyf jaar nog geen plan op papier sit om infrastruktuur vir die ontwikkeling te kry nie, nog minder om iets op die grond neer te sit. Die ontwikkeling hou groot omgewingsimplikasies in, wat die alreeds besoedelde Vaalrivier nog erger sal benadeel, indien dit moet voortgaan,” sê Grobbelaar.
Die Wonderfontein-ontwikkeling, wat in uitbreidings 74, 75, 76, 77, 78 en 79 onderneem word, is deel van die Sasolburg-dorpsbeplanningskema wat op 17 Oktober 2019 deur die Metsimaholo-dorpsbeplanningstribunaal goedgekeur is.
Van die vereistes waaraan voldoen moes word, sluit onder meer in:
- konsolidasie van erwe soos uiteengesit deur die Wet op Ruimtelike Beplanning van en Grondgebruikbestuur 16 van 2013;
- opknapping van die padnetwerk en infrastruktuur soos uiteengesit in die verkeersimpakstudie;
- aanstelling van ’n onafhanklike kontrakteur om ’n volledige infrastruktuurassessering te doen;
- ontwerp en bou van ’n nuwe rioolaanleg om genoegsame riolering vir die ontwikkeling te bied;
- bou en ontwerp van voldoende stormwaterstelsels; en
- voorlegging van voorlopige ontwerpplanne van die huise wat gebou gaan word in die dorpontwikkelingsgebied (dié planne moet binne ses maande vanaf die goedkeuring van die ontwikkeling ingedien word).
AfriForum sê hy sal voortgaan om die ontwikkeling teen te staan totdat daar bewys kan word dat dit op ’n omgewingsvriendelik wyse kan geskied.
“Die Metsimaholo-munisipaliteit is nie eens in staat om die dorpe waarvoor hulle alreeds verantwoordelik is te onderhou nie, maar wil ’n hele nuwe dorp ontwikkel, het Grobbelaar gesê.



