Hy het sy gemeenskap met toewyding en deernis gedien
Raadslid se afsterwe wyd betreur.
Inwoners van Parys en Vredefort, asook sy kollegas op die Ngwathe Raad het vanoggend met skok en hartseer gereageer na die afsterwe van DA rdl. Arnold Schoonwinkel, enkele dae na sy 81ste verjaardag.
Hy het sy gemeenskap met toewyding en deernis gedien
Rdl. Schoonwinkel was vir baie jare n gewaardeerde en gerespekteerde raadslid en inwoner van Parys, vir wie die dorpe wat deur die munisipaliteit bedien word, en inwoners hom baie na aan die hart was.
Een van sy mede-raadslede, Carina Serfontein het in ‘n huldeblyk aan hom vanoggend gesê dat hy ‘n staatmaker van die Demokratiese Alliansie was, en ‘n gemeenskapsleier wie se verbintenis tot diens en die welstand van die gemeenskap nie vergeet sal word nie.
Serfontein het gesê dat deur sy jare van toegewyde diens sedert die vroeg 2 000’s, sy integriteit, deernis en onwrikbare toewyding aan die mense wat hy gedien het, altyd uitgestaan het.
“Sy leierskap, wysheid en onvermoeide pogings om ‘n blywende verskil in mense se lewens te maak,” sal altyd onthou word. So ook sy kennis en waardevolle bydraes wat hy gemaak het onder meer op Ngwathe se Finansiële Portefeulje komitee, en by MPAC (Municipal Public Accrounts Committee).”
Sy lewe:
Rdl. Schoonwinkel het in Parys grootgeword en hier skoolgegaan, vertel oudburgemeester, Seeff Dannhauser. Hy en Arnold was in 1950 saam in die Sub A-klas, en was hul ouers ook oor baie jare goeie vriende.
Arnold was ‘n hoogs intelligente man wat na matriek ‘n Rotariër-beurs ontvang het om vir twee jaar in Amerika te kon studeer.
Hy het daarna sy studie in Ekonomie aan die Stellenboschse Universiteit voortgesit.
Arnold was vir baie jare verbonde aan die Universiteit van Burmingham waar hy vroeër jare aanlyn klas gegee het vir MBA-studente.
Hy was iemand met ‘n baie wye algemene kennis. Wyd belese, en iemand met wie jy oor enigiets kon gesels.
Hy was ook ‘n kranige swemmer – lief vir die Vaalrivier en die natuur.
Hy het lank in die Kaap en Stellenbosch gebly, en in sy lewe verskeie sakebelange en eiendomme gehad. Nadat hy vir ‘n tyd weg was van Parys, het hy teruggekeer na sy grootword dorp waar sy pa, Henry, ook vroeër jare burgemeester was. Sy ouers het op ‘n plaas in die Dover-distrik geboer.

Ten spyte daarvan hy op ‘n stadium longkanker gehad het en een van sy longe verwyder is, het Arnold n vol lewe gehad. Hy is Vrydag in die Potchefstroomse Medi Clinic opgeneem waar hy aan hartversaking oorlede is.
“Vir my was hy ‘n mentor. ‘n Vriend, en iemand wat sy laaste sent vir ‘n ander sou gee, al het hy homself daardeur te na gekom,” het oudraadslid Saal de Jager gesê.
Sy nalatenskap sal in die gemeenskap voortleef wat hy met liefde en toewyding gedien het.
Die DA het hul diepe medelye met sy naasbestaandes betuig.
Arnold was nooit getroud nie, en word oorleef deur sy suster, ‘n susterskind en skoonsuster.



