Vernuftige speurwerk gee skoenboks-foto’s lewe
Baie keer kan 'n mens 'n hele storie skryf met net een foto
Genealogie is nie ‘n beheptheid met die verlede nie, maar ‘n beheptheid met die toekoms. “Ons is bang julle vergeet. Ons is bang ons vergeet.”
Met die woorde en die storie agter sy eie stamboomnavorsing het Wilhelm Bernhardt, nasionale president van die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika, Saterdag die belangstelling in genealogie geprikkel op die FAK se Udolpho Rivierplaas net buite Parys.

Die genealogie werkswinkels en praatjies het deel gevorm van ‘n heerlike Kultuur- en familiefees wat vandag op Udolpho aangebied is en deur mense van heinde en ver bygewoon is.
Deesdae is genealogie baie gewild, met al meer mense wat hul familiegeskiedenis navors, maar die navorsing verg vernuftige speurwerk.
Wees ook gewaarsk – as die genealogie-gogga gebyt het, los hy nie, het Naomi Keyter, vertel.
Van die goue reëls van genealogie is die oggend onder meer deur Keyter, Bernhardt, en Germaine Smith gedeel.
Jou beginpunt is altyd jyself en dan werk jy terug in tyd. “Begin met wat jy weet en beweeg dan na die onbekende. Werk sistematies en skryf alles so volledig moontlik neer. Alle inligting kan belangrik wees. Die belangrikste is om deurentyd alle inligting te verifieer. As inligting aanlyn geplaas is, beteken dit nie noodwendig dat dit waar is nie.”
“Genealogie is wel ‘n lang lyn van name, datums en plekke, en dit kan eentonig raak as dit al is wat jy bymekaar gaan maak. Dit is egter veel meer as dit. Fotos, stories, begrafnisbriewe, dokumente, grafstene, Bybels, briewe van familielede, monumente, – al daardie tasbare elemente gee die lang lys van name murg en vleis. Dan begin jy regtig ‘n familieboom bou. ‘n Storie bly in ‘n skoenboks totdat jy begin met navorsing,”het Smith gesê.
Genealogie is sistematies en metodies en daar is ‘n regte manier om dit te doen, maar moenie vergeet om die stories saam met die boom te bou nie,” was Smith se raad.

“My doel was om lewende familie te vind en daarmee saam hulle stories neer te skryf,” het Smith uit haar eie genealogie-ervaring vertel.
“Familie foto’s is geneig om in skoenbokse te woon vir ‘n ewigheid sonder naam of datum. As genealoog moet dit jou doelwit word om baie van hierdie skoenboks foto’s en name lewe te gee, en dit is net deur die mense wat nog lewe te vra – wie is op die foto,” het sy gesê.
“Baie keer kan ‘n mens ‘n hele storie skryf met net een foto.”
Jy kan gerus met die Vaaldriehoek-tak kontak maak en so deel word van die genealogiese gemeenskap as die gogga jou sou byt. Gesels met Germaine Smith by 072 404 3441.




