Local newsNews

Hofbevel oor Ngwathe ‘n mylpaal ná jare se stryd oor dienslewering

Die jarelange stryd oor die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit se gebrekkige dienslewering aan sy inwoners, is Vrydag finaal die nekslag toegedien met die uitspraak van regter J.P. Daffue in die Bloemfonteinse Hoë Hof waarmee beslis is dat die Ngwathe Raad in terme van ‘n gestruktureerde hofinterdik moet ontbind, en dat dat die provinsiale regering ingevolge die …

Die jarelange stryd oor die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit se gebrekkige dienslewering aan sy inwoners, is Vrydag finaal die nekslag toegedien met die uitspraak van regter J.P. Daffue in die Bloemfonteinse Hoë Hof waarmee beslis is dat die Ngwathe Raad in terme van ‘n gestruktureerde hofinterdik moet ontbind, en dat dat die provinsiale regering ingevolge die hofuitspraak met onmiddellike effek by dié munisipaliteit moet ingryp.

Daffue het in die aansoek wat deur AfriForum na die hof gebring is, in die burgerregte organisasie se guns beslis met die verdoemende bevinding dat die Ngwathe munisipaliteit wat die dorpe Parys, Vredefort, Koppies, Edenville en Heilbron bedien, nie sy grondwetlike, wetlike en administratiewe verpligtinge teenoor sy inwoners nakom nie, en  die munisipaliteit en sy raad disfunksioneel is.

Nog erger is dat die hof  bevind het dat provinsiale regeringsdepartemente, en die LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (SRTS) in besonder, skandelik versuim het om in ooreenstemming met die grondwet by die munisipaliteit in te tree. Daffue het daarop gewys dat dié saak ’n geskikte geval is waarby die hof die rol as waghond moet speel, en is die Vrystaatse provinsiale regering nou gedwing om ingevolge Artikel 139 (5) van die grondwet, in te gryp by die munisipaliteit.

Die Demokratiese Alliansie het kort nadat die uitspraak laat Vrydagmiddag bekendgemaak is, gesê hy verwelkom die uitspraak. Die DA sê dit bevestig dat die munisipaliteit heeltemal disfunksioneel is en daarin gefaal het om aan sy grondwetlike verpligtinge te voldoen deur selfs die mees basiese dienste, soos toegang tot water, sanitasie en infrastruktuuronderhoud, te lewer.

Die party het AfriForum en die Save Ngwathe-groep geprys vir hul daadwerklike optrede waar beide die plaaslike en provinsiale regerings versuim het om op te tree. “Die uitspraak beklemtoon die langdurige ineenstorting van bestuur en die skokkende traagheid van die LUR vir COGTA en die Vrystaatse Uitvoerende Raad ten spyte van hul duidelike grondwetlike plig om in te gryp,” het DA raadslid Carina Serfontein gesê.

n Dringende beroep is gedoen op Premier MaQueen Letsoha-Mathae om die hofbevel sonder uitstel uit te voer wat onder meer die volgende bepaal in die uitspraak van 28 bladsye.

  • Ontbind die Ngwathe Munisipale Raad;

  • Stel ’n bevoegde administrateur aan;

  • Keur ’n dringende finansiële herstelplan en begroting goed om basiese dienste te herstel.

Soos AfriForum het die DA ook gesê dat vorderingsverslae, wat die premier elke drie maande moet indien soos deur die hof beveel, noukeurig gemonitor sal word, en dat daar nie gehuiwer sal word om verdere regs- of politieke stappe te neem indien daar enige poging is om die implementering van die herstelmaatreëls te vertraag of te belemmer nie.

Die hofuitspraak is allerweë verwelkom as ‘n oorwinning en belangrike mylpaal in die stryd teen die ineenstorting van plaaslike regering regoor die land, is gesê.

  • Die Ngwathe munisipaliteit het in antwoord op die hofuitspraak, Vrydag in ‘n amptelike verklaring gesê dat die munisipaliteit se uitvoerende burgemeester, rdl. Victoria de Beer-Mthombeni, kennis neem van die uitspraak, en die Bloemfonteinse Hoë Hof se beslissing respekteer. Nadat die detail van die uitspraak deurgegaan is, sal prosesse wat nou gevolg moet word, so gou moontlik gekommunikeer word, is gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button