Rolbal se kampioene onder die kampioene gekroon
Slegs die room van die Noordwes-provinsie se rolbalspelers het hier kragte gemeet en kon twee van Parys se rolbalspelers met silwer wegstap
Amanda Bester en Dries de Jager se individuele vaardighede, mededingende gees en onwrikbare fokus op die rolbalbaan, het hulself onder die elite in Noordwes-rolbalkringe geposisioneer by die Kampioen-van-Kampioene toernooi waar beide silwer-triomf in hul onderskeie afdelings behaal het.

Die toernooi is gekenmerk deur uitstaande spel van Noordwes se bestes op die rolbalbaan.
Beide Amanda en Dries het hulself al by herhaling as formidabele spelers bewys en die kampioene-kragmeting was geen uitsondering nie met spel wat die toonbeeld was van akkuraatheid, kalmte en strategie. Albei het voorheen ook die gesogte Enkelspel kampioentitel van hul tuisklub verower, en is hul sukses weer ‘n bewys van die toewyding, dryfkrag en vernuf wat by dié spelers gesien word.
* Geluk ook aan Parys-rolbalklub se wenners van die gemengde 4’e kompetisie – Jan Harmse, Chris Wentzel, Melanie Wentzel en Chrisjan Wessels, asook klubspelers wat uitgestaan het by die Noordwes Veterane Mans Pare-toernooi. By dié toernooi is goud verower deur Peter Jonothan Jacobs en Rudi Lombard, silwer deur Johan van den Heever en Josiah Radebe, en brons deur Gene Hull en Chris Nicolaou, en Dries de Jager en Wayne van Zyl.





