Atletiektalent wys by Fezile Dabi-kampioenskap
Op grond van hul prestasie by die Fezile Dabi-byeenkoms is 31 van Hoërskool Parys se atlete, en vyf aflosspanne gekies om die Noord Vrystaatse span te verteenwoordig.
Twee dae se atletiekaksie by die DP de Villiersstadion in Sasolburg vir vanjaar se Fezile Dabiatletiekkampioenskap het Hoërskool Parys se 62 kranige atlete beloon met ‘n oes van 45 medaljes.
Parys kon by die kampioenskappe wat op 18 en 19 Februarie beslis is, ‘n totaal van 17 goue, 19 silwer en nege bronsmedaljes
inpalm, en het veral die veldatlete hulself laat geld.
Onder die top 50 beste prestasies van die byeenkoms, was die prestasies van Parys se Simone Joubert (o14) en PC Steyn (o15). Joubert
het ’n eerste plek in haar hamergooi-item behaal met ’n persoonlike beste afstand van 39.6m. Steyn se krag in die hamergooisirkel het ook vir hom ’n plek op die top 50-ranglys verseker.
Heinrich Nortje (019) het nuwe hoogtes by die hoogspringmat bereik deur oor ’n indrukwekkende 1.90m te seil, terwyl Inke Nortman nie net ’n nuwe persoonlike beste afstand vir spiesgooi behaal het nie, maar ook amptelik haar kwalifiserende afstand vir die Suid-Afrikaanse Kampioenskap behaal het.

Op grond van hul prestasie by die Fezile Dabi-byeenkoms is 31 van Hoërskool Parys se atlete, en vyf aflosspanne gekies om die Noord Vrystaatse span te verteenwoordig.
Hierdie atlete sal op 4 en 5 Maart aan die Vrystaatse atletiekkampioenskap in Bloemfontein deelneem.



