Geen gesloer meer om Daffue-bevel oor Ngwathe administrasie tot uitvoer te bring, sê VS regering
'n Administrateur sal nou vir die Ngwathe Munispaliteit aangestel moet word.
Die hofbevel wat in Junie 2025 reeds deur regter JP Daffue in die Vrystaatse Hoë Hof gemaak is vir onmiddellike ingryping van die provinsiale regering by die Ngwathe Plaaslike munisipaliteit, en ontbinding van dié munisipale raad, gaan nou uiteindelik na maande uitgevoer word. Die besluit is Woensdag deur die Uitvoerende Raad van die Vrystaatse Provinsiale Regering geneem.
In ‘n amptelike verklaring is gesê dat die Uitvoerende Raad van die Provinsiale Regering kennis geneem het van die beslissing van die Konstitusionele Hof om die Ngwathe Munispaliteit se aansoek om verlof tot appèl teen die Daffue-beslissing in die guns van AfriForum, met koste van die hand te wys.
Ter uitvoering van sy grondwetlike verpligtinge ingevolge artikel 139 van die Grondwet, het die Uitvoerende Raad besluit om die hofbevel sonder verdere vertraging te implementeer wat die volgende stappe sal insluit:
• Die ontwikkeling en uitvoering van ‘n omvattende finansiële en diensleweringsherstelplan.
• Die ontbinding van die Munisipale Raad en die aanstelling van administrateurs.
• Die goedkeuring van tydelike begrotings of inkomsteverhogende maatreëls om funksionaliteit te herstel.
Die Uitvoerende Raad het ook die Provinsiale Regering se verbintenis herbevestig om goeie regering te herstel, die lewering van basiese dienste te verbeter en aanspreeklikheid teenoor die inwoners van Ngwathe te verseker.
Multidissiplinêre span
‘n Multidissiplinêre span, bestaande uit amptenare van relevante provinsiale departemente, sal saamgestel word om die implementeringsplan te finaliseer en toesig oor die uitvoering daarvan te hou, is gesê.
Ngwathe raadslede het met die skryf van die berig nog geen skriftelike kommunikasie van Ngwathe ontvang oor die ontbinding van die raad nie, is bevestig, en is geen amptelike verklaring oor die konstitusionele hof beslissing nog deur die munisipaliteit uitgereik nie.
Maandelange hofstryd
Die burgerregteorganisasie AfriForum het in Mei 2024 sy aansoek ingedien by die Bloemfonteinse Hooggeregshof en versoek dat die Ngwathe-munisipaliteit weens ‘n diensleweringskrisis onder provinsiale administrasie geplaas word.
Die saak is in Desember daardie jaar aangehoor, en in Junie 2025 het regter J.P. Daffue sy uitspraak gelewer. Hy het beslis dat die Ngwathe-munisipaliteit nie sy grondwetlike, wetlike en administratiewe verpligtinge teenoor die inwoners van onder meer Parys, Heilbron, Koppies en Vredefort nakom nie.
Hy het beveel dat die munisipale raad ontbind moet word en die Vrystaatse provinsiale regering onmiddellik by die munisipaliteit moet ingryp.
Die munisipaliteit het egter herhaaldelik en sonder sukses probeer om teen dié beslissing te appelleer – eers by die Hoogste Hof van Appèl en daarna ook by die Konstitusionele Hof wat verlede week die aansoek met koste van die hand gewys het.



