Emfuleni begin met herstel van rioolinfrastruktuur ná dringende hofaksie
AfriForum verwag dat pompstasies 8 en 10 ná 22 September ten volle operasioneel sal wees, in ooreenstemming met die huidige onderneming en planne

Die burgerregte organisasie AfriForum het stappe wat die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit geneem het om die voortslepende rioolprobleme by pompstasies 8 en 10 in Drie Riviere, Vereeniging, op te los, verwelkom.
Dit volg op AfriForum se dringende hofaksie om die duisende liter rou riool wat in die Vaalrivier vloei te stuit.
AfriForum se regspan het vandag, Vrydag 21 Augustus, bevestig dat daar reeds met werk begin is om die probleme by die twee pompstasies op te klaar.
Volgens AfriForum is dit gevolglik nie meer nodig om voort te gaan met die dringende interdik, wat op 25 Augustus aangehoor sou word.
“Hierdie verwikkeling toon dat regs- en openbare druk daadwerklike optrede teweeg kan bring,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum se hoof van die sentraalstreek.
“Dit is ’n enorme oorwinning vir AfriForum, vir die Vaalrivier en die gemeenskappe wat daarvan afhanklik is. Ons hoop dat dit in die toekoms nie nodig sal wees om ’n hofaansoek te bring om die munisipaliteit tot optrede te dwing nie, maar dat ons eerder kan saamwerk om die rioolinfrastruktuur te herstel en die besoedeling van die Vaalrivier te beëindig.”
AfriForum sal egter voortgaan met die tweede deel van sy hofaansoek. Die doel hiervan is om te verseker dat die burgerregteorganisasie behoorlik inligting ontvang en deurlopende verantwoording van die munisipaliteit kan eis rakende die bedryf en instandhouding van die rioolinfrastruktuur.
AfriForum eis onder meer toegang tot die munisipaliteit se planne en tydlyne vir die volledige herstel en rehabilitasie van pompstasies 8 en 10, insluitend wanneer die munisipaliteit verwag dat die infrastruktuur ten volle operasioneel sal wees en hoe verdere rioolbesoedeling voorkom sal word.
AfriForum wil ook hê dat die munisipaliteit die organisasie in die toekoms op hoogte moet hou wanneer probleme by die betrokke infrastruktuur ontstaan.
“Ons wil nie eers ná ’n maand uitvind dat daar weer ’n rioolstorting is nie. Ons wil weet wanneer die probleem ontstaan, wat dit veroorsaak het, wat die munisipaliteit daaromtrent doen en wanneer dit opgelos sal wees. Deel B van die hofaansoek bied aan AfriForum ’n belangrike meganisme om ’n wakende oog oor hierdie stelsels te hou en te verseker dat probleme onmiddellik aandag geniet,” sê Grobbelaar.
AfriForum behou ook die reg voor om die hof in die toekoms op ’n dringende grondslag te nader indien verdere rioolstortings plaasvind en die munisipaliteit versuim om die nodige stappe te doen om die probleem aan te spreek.
“Die gemeenskap wil werkende rioolinfrastruktuur, skoon water en ’n munisipaliteit hê wat onmiddellik optree wanneer iets verkeerd loop. AfriForum se doelwit was van die begin af om die Vaalrivier en die mense wat daaromheen woon, te beskerm. Indien die munisipaliteit bereid is om met ons saam te werk en verantwoordelikheid te aanvaar, is AfriForum bereid om met hulle saam te werk,” sluit Grobbelaar af.
AfriForum verwag dat pompstasies 8 en 10 ná 22 September ten volle operasioneel sal wees, in ooreenstemming met die huidige onderneming en planne. Die burgerregteorganisasie sal voortgaan om die situasie te monitor en dienooreenkomstig op te tree.
2



