Toename in misdaadinsidente op Vrystaat-plase wek kommer, sê VS Landbou
Die jongste voorvalle vorm deel van ’n breër tendens wat in verskeie gebiede van die Vrystaat gesien word en onder andere onwettige jag met honde, vee- en graandiefstal, asook die diefstal van koperkabels, transformators en sonkragpompe en -panele insluit.
Vrystaat Landbou (VL) sê hy is bekommerd oor ’n toename in misdaadinsidente op plase in verskeie
dele van die Vrystaat wat die afgelope tyd opgemerk word. Dr Jane Buys, Veiligheid risiko-analis van VL, meen die aard en omvang van die insidente is kommerwekkend omdat verskeie van die voorvalle op ’n soortgelyke modus operandi dui.
Buys het verwys na ‘n voorval waar ‘n verdagte verlede week in die Excelsior-gebied in hegtenis geneem is nadat daar na bewering gepoog is om honde te vergiftig en ’n Toyota-bakkie te steel. In die Hobhouse-
gebied is drie verdagtes, wat vermoedelik vanuit Lesotho opereer, in hegtenis geneem in verband met trekkerdiefstal. Die verdagtes word deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) aangehou hangende verdere ondersoek.
Buys sê twee soortgelyke insidente is ook hierdie week gedurende die vroeë oggendure in die Tweespruit-gebied plaasgevind, waar daar na bewering gepoog is om honde te vergiftig, asook om ’n voertuig en trekker te steel.
Sy sê die voorvalle vind hoofsaaklik tussen ongeveer 23:00 en 02:30 plaas, met twee tot drie verdagtes wat tipies betrokke is. Sy sê die modus operandi dui daarop dat dieselfde sindikaat moontlik by van die insidente betrokke kan wees.

Breër misdaadpatroon
Buys sê dat die jongste voorvalle deel vorm van ’n breër tendens wat in verskeie gebiede van die
Vrystaat gesien word. Dit sluit onder meer onwettige jag met honde, vee- en graandiefstal,
asook die diefstal van koperkabels, transformators en sonkragpompe en -panele in.
Verhoog paraatheid
Jakkals le Roux, voorsitter van VL Landelike Veiligheid-komitee, het namens die organisasie ’n
beroep op boerderygemeenskappe gedoen om hul paraatheid te verhoog en enige verdagte aktiwiteite of misdaadinsidente onmiddellik aan die SAPD en hul plaaslike Landelike Veiligheidskoördineerder
(LV-koördineerder) te rapporteer.
Boerderygemeenskappe word verder aangemoedig om:
- misdaadinsidente tydens maandelikse veiligheidsvergaderings aan te meld;
- plaaslike misdaadvoorkomingsaksies en operasies saam met die SAPD te versoek;
- aktief aan plaaslike veiligheids- en patrollie-aksies deel te neem; en
- alle misdaadinsidente ook aan Vrystaat Landbou se verteenwoordigers deur te gee, sodat
dit met die betrokke distriks- en provinsiale strukture opgevolg kan word en die nodige
operasies en hulpbronne gemobiliseer kan word.
“Die jongste insidente beklemtoon weereens die belangrikheid van samewerking, kommunikasie
en gemeenskapsbetrokkenheid in die voorkoming en bekamping van plaasaanvalle en ander
misdade op please”, sê le Roux.



