Die dubbele slag van ‘n wegbly-stem: So raak dit jou
Die uitdaging is groter as 4 November en dit begin by jou stem op daardie dag.
Van die 63 000 kiesers wat in 2021 in Ngwathe geregistreer was, het net 30 000 gestem. Maar elke wegbly stem in die komende munisipale verkiesing, is drie stemme wat verloor word waarvan twee baie belangrik is vir plaaslike regering. Dit is wat buite rekening gelaat word wanneer kiesers meen dat ‘n stem in die plaaslike munisipale verkiesing geen verskil maak nie.
Met ‘n plaaslike regeringsverkiesing stem jy nie net vir die party en wyksraadslid van jou keuse nie. Jy stem ook vir ‘n party vir die proporsionele setel op die munisipale raad, en vir die party van jou keuse vir verteenwoordiging op die distriksmunisipale raad. Daarom kry elke geregistreerde kieser drie afsonderlike stembriewe.
Die belangrikheid van die proporsionele stem kom daarby dat stemme vir ‘n party op die wykskandidaat stembrief, saamgetel word met die proporsionele stemme vir elke party om die samestelling van die munisipale raad te bepaal.
Hoekom is die samestelling van ‘n raad belangrik?
‘n Munispale raad neem besluite oor belangrike kwessies insluitend die burgemeester se statutêre kwartaalverslag, die jaarverslag, die verslag oor salarisse, lone en toelaes van personeel, en die verslag oor besluite geneem en uitgevoer ooreenkomstig gedelegeerde bevoegdhede aan die munisipale bestuurder verleen.
Die jaarlikse begroting en enige aanpassingsbegroting moet ook deur die raad goedgekeur word.
Uit sy meer as 15 jaar ervaring in die politieke speelveld, op beide munisipale en nasionale vlak, het Cilliers Brink, die DA se burgemeesterkandidaat vir die Tshwane Metro Raad, sy ervaring oor die realiteit van plaalike regering, politieke onstabiliteit, uitdagings met dienslewering, finansiele bestuur en koalisie bestuur, met inwoners van Ngwathe gedeel.
Vir ‘n munisipaliteit om te werk moet probleme aangespreek word en oplossings gevind word, maar dit verg ‘n kombinasie van self doen en deelname, sowel as ‘n sterk anker party waar koalisies gevorm moet word, het Brink gesê.
“As dit goed gaan met ‘n munisipaliteit, gaan dit goed met almal. As dit finansieël goed gaan met ‘n munisipaliteit, is dit ook die armes wat voordeel trek.”
Hy het krag- en watervoorsiening uitgesonder as van die belangrikste diensleweringsfunksies van ‘n munisipaliteit en melding gemaak van die beduidende elektisiteitsverliese weens onwettige aansluitings en kragdiefstal waarmee Ngwathe te kampe het. Dit, tesame met waterverlies, slaggate, nie-werkende straatligte en ander infrastukstuur en bestuursuitdagings kan inwoners oorweldig laat voel, het Brink gesê.
Met verwysing na Rural Maintenance se suksesverhaal met kragverspreiding in Frankfort, het Brink die belangrikheid van publieke en openbare vennootskappe met bewese kundigheid benadruk.

“Om dinge in ‘n munisipaliteit gedoen te kry, het jy ‘n meerderheid steun op die munisipale raad nodig, ” het hy gesê. Dit beteken dat ongeag of ‘n party ‘n wyk sou wen, jou stem in die munisipale verkiesing, uiteindelik die deurslaggewende faktor sal wees om te bepaal watter party die meerderheid stem in die raad het wat jou as inwoner direk raak as dit by besluitneming kom.
Die DA se burgemeesterskandidaat vir Ngwathe, Carina Serfontein, het by Brink se boodskap aangesluit toe sy gesê het dat Ngwathe nie aan ‘n politieke party behoort nie, maar aan sy inwoners. Inwoners wat moet kan staatmaak op dienslewering omdat dit oor die menswaardigheid van mense gaan.
Serfontein het gesê mense het munisipaliteite nodig wat werk, maar dat dit ‘n plan en die vermoë om dit uit te voer, leierskap en moeilike besluite verg.
“Munisipaliteite wat bestuur word met die beginsel dat die regte mense in die regte posisies aangestel moet word, korrupsie gevolge het, dienslewering die eerste prioriteit is, en aanspreeklikheid vereis word, soos in DA-beheerde munisipaliteite gesien word,” het sy gesê.
Die uitdaging is groter as 4 November en dit begin by jou stem op daardie dag.
“Ons kan nie verandering oornag belowe nie. Dit sal tyd neem. Dit sal dissipline vra. Dit gaan moeilike besluite verg, maar ons sal die munisipaliteit van dag een verander,” het Serfontein belowe.



