
Geen bekommernis oor duur petrol en meer belasting. Of jy van Johannesburg, die Vaaldriehoek, Potchefstroom of sommer net met Jan Tuisbly se karretjie kom – van vandag (29 Maart) tot 15 April word daar kuns gepraat in Parys, wanneer die dorp sy eerste kunstefees hou. Jy’s genooi om saam te praat.
Kuns in verskeidenheid kan letterlik om elke hoek en draai in die dorp beleef word met van fotografie tot dans, ’n jolige straatpartytjie, kuns in die park langs die Vaalrivier-oewer, ’n verskeidenheid vertonings, ‘n kunsroete vir die viervoete, en ‘n colour run.
Daar is selfs geleentheid om jou frustrasie met die slaggate in die dorp se strate rooi te verf.
Parys is nie verniet bekend as ’n kunstenaars-mekka nie, en hierdie fees sal jou die ideale geleentheid bied om die dorp te leer ken. Die fees open amptelik op 29 Maart om 18:00 by Egweni, met van Gumboot-dansers en ’n marimba-orkes, tot opera-sang en die Chris van Niekerk-strykers. ’n Wye verskeidenheid kulture saam onder een kunssambreel met kaas-en-wyn.
Saterdag 30 Maart is die fokus op die kinders met onder meer sang, gesigverf, maskermaak, pottebakkerswerk, skilder en verf. Die prysuitdeling vir die hoër- en laerskool kunskompetisie sal dan ook plaasvind.
Elke Saterdag kan jy toer deur Parys met ’n heerlike Safari Supper, aangebied deur Epilepsie Suid-Afrika se Vrystaat/Noordwes-sentrum.
Op 31 Maart is die 3 Reisigers – Dana Snyman, Johan Badenhorst en Johan Bakkes in die dorp vir ’n gesellige vertoning saam met Gert Vlok Nel. Die drie het beslis geen bekendstelling nodig nie en sal jou sover kry om in gees die tasse nader te sleep en saam te reis.
Maandag 2 April het feesgangers geleentheid vir ’n baie unieke uitstappie saam met hul viervoet-vriend met honde-bederfies, wanneer daar om 08:00 in groepe vanaf The Garden in Middelstraat 8, gestap word. Hierdie heerlike familie-uitstappie saam met jou troeteldiere kan jy nie misloop nie. Daar is bakke met dierevriendelike verf waarmee die dorp se sypaadjies letterlik rooi, blou en groen geverf gaan word en verversingspunte met water en spesiale hondelekkernye.
Marina Welsh, bekende beeldhouer van Johannesburg, kuier later in die week in Parys wanneer sy ’n Figuur Werkswinkel aanbied.
Kom verf saam die meer gat as pad in neon elke Vrydagaand saam met Epilepsie Suid-Afrika wat die kaartjies vir die Neon Pothole Painting verkoop.
Op Saterdag 7 April word daar hande gevat met die Hartelus Mark vir ’n Art on the Banks geleentheid. Kom snuffel by die stalletjies vir handwerk, juwele, klere – enigiets met ’n kuns aanslag en geniet die kunstige verskeidenheid in die mooi van die natuur. Daar is nog stalletjies beskikbaar.
Die dag word afgesluit met ’n Art Explo- sion soortgelyk aan ’n colour run, en skuimpartytjie later die middag. Dan word daar ook nog ‘n straatpartytjie beplan vir Saterdag 14 April, en is daar verskeie vertonings en optredes. Hieronder tel die optrede van Wasgoedlyn (7 April), The Classic Wave (13 April), You Suck en ander Afgryslike Waarhede (14 April), Terug na Donkiespad: Geskoei op verhale van dr. Con de Villiers (14 April) en ’n Paaskantate (15 April). Ander verrassings op die program is DJ Wester en Jak de Priester.
Kunstenaars kan gerus ook die ARTChair projek ondersteun waarmee jy op jou unieke wyse ’n stoel kan opdoilie, verf of verfraai. Die stoele sal opgeveil word ten bate van verdienstelike organisasies.
Die volledige feesprogram is op bladsy 2 van hierdie week se Gazette. So ook die lys waar kunsuitstallings vir die duur van die fees besigtig kan word. Kry jou kaartjies by Parys Info of aanlyn.
*Vir meer inligting oor die Parys Kunstefees, hou die Parys Arts Festival Facebookblad dop, gaan na die webwerf www.parysartsfestival.co.za, of skakel 083 409 9041 vir meer inligting.



