
Die langverwagte opgradering van die Tumahole rioolpypleiding, sal na verwagting die komende naweek in Wesstraat begin.
Eers moet ‘n aantal inspeksiegate gegrawe word om bestaande dienste en infrastruktuur te bepaal en te dokumenteer. Hierdie is n noodsaaklike deel van die kontrak, omdat die Ngwathe munisipaliteit tans geen kaarte het van die bestaande dienste in dié area nie.
Na afloop van dié eerste fase sal daar begin word om die pypleiding te lê in Wesstraat – vanaf die Rooidam, tot by die rioolaanleg.
Die pypleiding sal nie onmiddelik aan die bestaande aanleg gekoppel word nie, maar wel sodra die rioolaanleg se invloeikapasiteit uitgebrei is.
Die kontrakteur het benadruk dat daar in dele gewerk sal word om ongerief vir onwoners tot die minimum te beperk.
Die dele waar gewerk is, sal daagliks weer toegemaak word. Die teeroppervlak sal wel eers na afloop van die projek herstel word. Daar word verwag dat die projek ongeveer drie maande sal duur. Enige skade aan die bestaande dienste-infrastruktuur sal deur die kontrakteur herstel word.
Indien daar probleme opduik gedurende die tydperk, kan inwoners dit aanmeld by die projektoesighouer, Mnr. Sizwe Oliphant by 083 567 4459.



