Parys vanjaar gasheer vir SA Senior Dames Gholf-kragmeting
’n Geleentheid wat ‘n provinsie net eenmaal in 13 jaar te beurt val!

Die SA Senior Dames Gholftoernooi word vanjaar van 12 tot 15 Mei gehou, en waar dan anders as net hier in Parys met sy twee spog gholfbane, binne net 10 minute se ry van mekaar.
Dié toernooi is vir damesgholfspelers bo 50 jaar. Elke provinsie hou maandeliks provinsiale gholfdae, waar spelers punte verdien om dan te kwalifiseer vir die jaarlikse nasionale toernooi.
Die nasionale toernooi word roterend in die onderskeie provinsies aangebied met die Vrystaat wat vanjaar sy beurt kry om die 26ste SA Senior Dames Nasionale Gholftoernooi aan te bied.
Naas die spog gholfbane wat Parys kop en skouers laat uitstaan het as gasheer vir die 2019 toernooi, bied die dorp voldoende akkommodasie, vele besoekpunte, winkels en restaurante, wat beloof om die besoek hier vir die deelnemende dames onvergeetlik te maak.
Die dames kom vanoor die land, en minstens 200 spelers word verwag. Die toernooi vind plaas oor drie dae op beide bane.
Met die goeie gesindheid van albei gholfbane asook die Besigheids Forum van die middedorp, gaan die gaste nie net heerlik gholf speel nie, maar ook lekker kuier. Daar word onder andere ‘n Vintage Gala Dinee by Vaal de Grace beplan, en ook ‘n Aand Straatfees in die middedorp.
Parysenaars word genooi om die tradisionele opening seremonie van die toernooi by te woon op Sondag 12 Mei om 17:00 by die Parys Golf en Country Estate. Dit is regtig besonders om 200 dames in hulle provinsiale kleure, so bymekaar te sien!
Die reëlings vir die toernooi word getref deur die Vrystaat-bestuur in Bloemfontein, in samewerking met plaaslike Parys Seniordames spelers. ’n Geleentheid wat ‘n provinsie net eenmaal in 13 jaar te beurt val!




