Brandskade groot in die Koepel
Veldbrande het die afgelope naweek groot verwoesting in die Vaal Eden Brandvereniging-gebied en by Schoemansdrift in die Vredefort Koepel veroorsaak. Die Koepel-brand het Saterdagoggend om 11:00 in die omgewing van die plaas Elgro River Lodge begin, en oor die teerpad gespring met sterk wind wat die vlamme teen tot 32km/h aangejaag het tot by die …
Veldbrande het die afgelope naweek groot verwoesting in die Vaal Eden Brandvereniging-gebied en by Schoemansdrift in die Vredefort Koepel veroorsaak.
Die Koepel-brand het Saterdagoggend om 11:00 in die omgewing van die plaas Elgro River Lodge begin, en oor die teerpad gespring met sterk wind wat die vlamme teen tot 32km/h aangejaag het tot by die plase Grootkoppe en Rooderand wat afgebrand het.
Vandaar is die brand oor die berg na die private oord, Roodekloof waar hy terug gebrand het. Teen Sondagoggend 03:30 het die brandspanne onttrek maar het dit weer teen 07:00 die oggend begin brand. Daar kon egter daarin geslaag word om die vuur te keer toe dit gestop is naby die grens van die plaas Suikerbos.
Die wind het telkens die vuur laat opvlam en kon daar eers teen 20:00 Sondagaand ‘n kode blou gegee word toe daar geen meer vlamme was nie. Sowat 2 100 hektaar het gebrand.
Naas grondeienaars wat gehelp het om die vuur te veg, is hulp ook gekry van die Potchefstroomse Working on Fire span.
Die brand by Vaal Eden het Saterdagmiddag rondom 12:30 begin. Boere van die Vaal Eden Brandvereniging en die Working on Fire Parys-span het teen die vlamme baklei, nadat dit al die Vrydag plek-plek begin brand het.
Daar moes deurnag geveg word teen die vlamme. Meeste van die weiding by Piet Cilliers op die plaas Middenpunt het afgebrand. ‘n Brand het Saterdagmiddag ook sowat 3km buite Vredefort langs die Viljoenskroon-teerpad begin, en toe met die sterk wind oor die grondpad en teerpad gespring.
As dit nie was vir boere se vinnige reaksie om die brand teen die mielielande te keer nie, kon die skade erger gewees het met die sterk wind, het Adolf Greeff gesê.
Hy sê dit het oor sowat 70 hektaar gebrand waarvan die meeste skade op Barry Steenkamp se grond was.