Die polisie in Mogwase ondersoek ‘n saak van moord sowel as ‘n geregtelike doodsondersoek na ‘n voorval waarin die twee lewelose liggame in ‘n veld by Lotwane-afdeling in Ramokokastadt gevind is.
Lieutenant kolonel Sam Tselanyane, polisiewoordvoerder, sê die liggame van Khumo Moatshe (38) en sy meisie, Kefilwe Mosane (26), is Maandag, 30 Desember 2024 omstreeks 07:00 in ‘n veld ontdek.
“Omstanders het die twee liggame ontdek. Die vrou se naakte liggaam is langs ‘n voetpaadjie in die veld raakgesien. Haar nek was gesny en haar klere en onderklere is ongeveer 30 meter verder in die bosse versteek gevind. Die man se liggaam het ongeveer 20 meter van die vrou se liggaam aan ‘n tou in ‘n boom gehang.”
Voorlopige polisieondersoeke het aan die lig gebring dat die twee na bewering saam woon, maar die vrou het na bewering die vorige week weens gesinsgeweld uitgetrek. Dit is ook bevestig dat die moordverdagte die aand van die moord- en selfdoodvoorval die slagoffer gebel het om een van hul kinders te kom haal wat oor die ma gehuil het. Die vrou het op daardie oproep gereageer en dit was die laaste keer dat sy lewend gesien is.
Die polisieondersoek duur voort.



