Raadslede in die duister oor Eskom-skuld
Opposisieraadslede in Ngwathe soek nou dringend antwoorde en aksie vir dié munisipaliteit se voortslepende Eskomskuldkrisis. Ngwathe se agterstallige skuld is al meer as R900 miljoen. Burgemeester Joey Mochela het meer as ‘n jaar gelede ’n veelparty-taakspan saamgestel waarvan sy die voorsitter is. Saam met vyf ander komiteelede moes hulle die Eskom-krisis beredder, maar dié taakspan …

Opposisieraadslede in Ngwathe soek nou dringend antwoorde en aksie vir dié munisipaliteit se voortslepende Eskomskuldkrisis. Ngwathe se agterstallige skuld is al meer as R900 miljoen.
Burgemeester Joey Mochela het meer as ‘n jaar gelede ’n veelparty-taakspan saamgestel waarvan sy die voorsitter is. Saam met vyf ander komiteelede moes hulle die Eskom-krisis beredder, maar dié taakspan het ses maande gelede die laaste keer vergader en lede weet nie wat aangaan nie, sê DA-raadslid Arnold Schoonwinkel, een van die opposisielede van dié taakspan. Hy sê hy is bekommerd dat Eskom weer mag dreig om elektriese kragvoorsiening te onderbreek, veral met Eskom wat self in ‘n enorme skuldkrisis is. Hy kla dat hy en sy DA-kollegas wat in die Raad dien, min tekens sien dat Ngwathe se amptenare die skuldkrisis aanspreek. “Agterstallige rekenings word hoogs geselekteerd ingesamel, fakture is steeds laat en verkeerd, kragdiefstal gaan openlik en op groot skaal voort, onwettige kragkoepons is steeds vrylik teen afslagpryse te koop, en straatligte brand bedags op talle plekke.” Rdl. Phillip van der Merwe (VF+), nog ’n lid van die taakspan, kla ook oor betalings van R5.55m in totaal aan EPG, ‘n omstrede leweransier van slim kragmeters wat deur Tshwane munisipaliteit van bedrog beskuldig word. “Verlede September het ek vasgestel Ngwathe het reeds R5.55m ten opsigte van dienste en meters aan hierdie firma betaal, hoewel R2.5m se meters en dienste nog nie aan Ngwathe gelewer was nie.” Hy sê antwoorde op sy vrae daaroor is steeds nie ontvang nie. “Sover ek weet is tenders tans weer toegeken vir nuwe meters, maar geen besonderhede is bekend nie.”
Hy vrees dit kan ook op ‘n fiasko uitloop as die taakspan en raadslede daaroor in die duister gehou word. Sowel hy as rdl. Schoonwinkel het die burgemeester gevra om haar taakspan dringend byeen te roep, waarop sy klaarblyklik ingestem het om hulle later hierdie week oor hul kwelvrae te ontmoet.



