
Iemand wat altyd met dag en datum ‘n staaltjie kon vertel van die dorp en sy mense vir wie hy so oneindig lief was – of dit nou die sakekamer of die dorp se rugbyspan was. ‘n Groot sakeman en eiendomsagent, maar ook liefhebber van saalperde. ‘n Man vir wie die groei van Parys belangrik was. Sy dorp waarna hy so graag sou verwys as – Parys tuindorp, prag van die Vaal.
Nooit het hy nagelaat om te kom groet, altyd met ‘n foto of ‘n ietsie om te vertel wanneer hy dorp toe sou kom en eers by die Gazette se kantoor kom inloer het. Hy’t altyd net die mooi in ander raakgesien. Altyd reg gewees om aan te moedig. ‘n Tevrede mens. ‘n Positiewe mens. ‘n Mens wie se karakter onmiskenbaar gevorm is deur ‘n diepe geloof in sy Skepper en sy medemens.
Hy was nie een vir aansien nie. Oom Lood was oom Lood – eerlik en opreg – so onthou ek die skraal figuur as hy so dikwels by my kantoor sou instap. Altyd ‘n glimlag, altyd met die hoedjie op die kop en bruin aktetas in die hand.
Of dit langs die arena by die skougronde was, of besig om iemand ‘n plaas of eiendom te wys – sy liefde vir sy dorp en die mense het uit hom gestraal.
Parys en sy mense salueer ‘n groot man ‘n ware heer, wat gister, Dinsdagaand 3 April oorlede is, net 20 dae dae voor sy 93ste verjaardag.
Parys Gazette se personeel en sovele andere sal oom Lood nooit vergeet nie.
Ons innige medelye met die familie.



