Net soos verjaarsdae het ’n ooievaarstee ook deesdae ’n kreatiewe kinkel gekry.
Terwyl sommige Zoom-kuier en ander video-verjaardagboodskappe deel, is verbyry, of dan deurry om vinnig ’n geskenkie of bederfpakkie af te gee deesdae baie gewild vir verwagtende mammas of voornemende bruide.
Daarvan kan ds. Juan en Melany de Beer, predikantspaar van die Hervormde Kerk in Parys ook getuig nadat hulle onlangs kort voor klein Ryan sy opwagting op 22 Mei gemaak het, verras is met ’n “deurry” ooievaarstee.

Die predikantsgesin, Juan en Melany de Beer met ouboet Luc, waar hulle kort voor klein Ryan se geboorte, verras is met ’n deurry ooievaarstee vir die nuweling in hul gesin.
Melany vertel dat sy glad nie ’n ooievaarstee te wagte was nie, omdat die familie ver van hier is en sy darem met hul eersteling die vreugde van ’n ooievaarstee gehad het. Alta Pretorius, ‘n gemeentelid, het egter besluit dat grendelstatus beslis nie die vreugde vir dié nuweling sou inperk nie. Die kerkterrein se twee hekke is oopgemaak en ’n tafel reggesit vir die nagenoeg 35 deurry-gaste wat met die deurry die predikantsgesin met ’n boodskappie en bederfpakkie vir baba verras het.

En klein Ryan het sommer klaar die harte gesteel.





