Ons is gereed vir môre se skooldag!
Matrikulante van die Hoërskool Parys en graad 7 leerlinge van Parys Primêr is gereed om môre weer terug op die skoolbanke te wees. Daar is die afgelope twee weke by beide skole baie hard gewerk om alles in gereedheid te bring om dié leerlinge weer terug by die skool te verwelkom met die nodige veiligheid- …
Matrikulante van die Hoërskool Parys en graad 7 leerlinge van Parys Primêr is gereed om môre weer terug op die skoolbanke te wees.
Daar is die afgelope twee weke by beide skole baie hard gewerk om alles in gereedheid te bring om dié leerlinge weer terug by die skool te verwelkom met die nodige veiligheid- en gesondheidsmaatreëls wat in plek gestel is.
Ouers sowel as leerders is behoorlik ingelig oor die prosedures wat met die aankoms van leerling by die skool gevolg sal word, sowel as hoe die skooldag sal werk, en wat van elke leerder en onderwyser verwag sal word.

Geverfde voetspore op die plaveisel by Parys Primêr dui aan waar leerders moet staan om sosiale afstand te handhaaf.

Ook Hoërskool Parys se matrikulante en ouers is vooraf gewys en ingelig oor hoe dinge van Maandag 8 Junie by die skool sal werk. Hier is die leerders gewys hoe die sifting- en skandeerstasies sal funksioneer. Foto: Verskaf
Dit volg nadat minister Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, ook Sondag 7 Junie die ja-woord gegee het vir skole regoor die land om Maandag 8 Junie wel te kan open vir graad 7 en 12 leerders, ‘n week na die aanvanklik aangekondigde datum.
Die minister het in haar boodskap gesê 95% van skole in die land is gereed om Maandag te kan open na 2 maande van inperking. Sy het ook gesê skole wat nie gereed is nie, nie sal heropen nie en dat niemand gedwing sal word om hul kinders skool toe te stuur nie, maar dat hulle ‘n verantwoordelikheid het om onderrig aan hul kinders te gee.
Tate Makgoe, die Vrystaatse LUR vir onderwys het gesê dat die Vrystaatse 1 123 skole gereed is, en dat handreinigers, termometers en maskers afgelewer is. Daar is wel nog skole waar watertenks afgelewer moet word en enkele skole waar daar nog probleme is met herstelwerk na diefstal en vandalisme tydens inperking. Altesaam 72 skole in die provinsie het as gevolg hiervan skade gehad.





