

“Daar is leerders in my klas wat die maskers wil aanhou dra, want hul voel nie mooi genoeg nie…dit gaan vir sommige van hulle nie meer oor gesondheid nie, maar eerder om agter die masker weg te kruip en dit is vir my baie hartseer. Ek sukkel om die leerders te hoor, ek kan geen emosie sien nie, ek weet nie of die leerder gelukkig of hartseer is nie…”
Só het ‘n onderwyseres, verlede week in haar aangrypende kommentaar gereageer op ‘n berig wat Parys Gazette geplaas het oor die dra van maskers wat nie meer verpligtend is by skole nie.
Die departement van onderwys het die besluit dat maskers nie meer gedra hoef te word nie, en wat outomaties ook skole insluit, verwelkom, maar ook benadruk dat ouers die beste weet as dit kom by hul kinders, en dat diegene wat steeds verkies om maskers te dra, toegelaat sal word om dit te doen. Dit bly opsioneel en sal nie afgedwing word nie.
In haar kommentaar wat op Parys Gazette se Facebook-blad geplaas is, skryf die onderwyseres:
“Met die dra van die masker het party leerders stiller geword en selfs opgehou praat. Hulle staar jou net met moeë oë aan en wil nie meer aan klasgesprekke deelneem nie.
“Dit is elke ouer, kind en landsburger se reg om te besluit of hy die masker wil dra of nie, maar ek is bekommerd oor ons leerders se emosionele welstand en hul vrees om weer vry te kan wees. Hulle is bang, want die koue Covid ondier loer nog vir hulle. Waar gaan ons ‘n middeweg vind, wonder ek?
“Ek gaan voor my klas staan en natuurlik gaan ek my afstand hou, maar dié keer gaan hulle my glimlag sien, hulle gaan my mooi duidelik kan hoor wanneer ek ‘n grappie maak om hul dag net so ‘n klein bietjie beter te maak.”





