Local newsNews

‘GOP weerspieël gebrek aan dienslewering’

“Inwoners van Parys verdienbeter. Hierdie kommentaar is nie net kritiek nie – dit is ’n oproep tot aksie,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

“Die Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) moet nie net ’n simboliese dokument wees nie – dit moet die gemeenskap se werklike behoeftes blootlê en konkrete oplossings bied. Ongelukkig reflekteer die huidige GOP nie die erns van Parys se situasie nie,” sê Schalk Burger, voorsitter van die AfriForum-tak in Parys.

AfriForum se Parys-tak het die afgelope week amptelik kommentaar ingedien op die Ngwathe munisipaliteit se GOP vir 2025/2026 wat reeds by openbare vergaderings aan inwoners voorgehou is. In die kommentaar spreek AfriForum sy kommer uit oor basiese dienslewering soos, krag- en watervoorsiening, paaie, riolering en onwettige vullisstorting wat volgens dié burgerregte organisasie nie deur die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit aangespreek word in die GOP nie.

Die organisasie dring daarom aan dat die munisipaliteit behoorlik moet begroot om ‘infrastruktuur- en bestuursfoute reg te stel.’ AfriForum sê in sy kommentaar onder meer dat die GOP geen duidelike plan bevat vir die instandhouding of opgradering van elektriese infrastruktuur nie. Herhaalde kragonderbrekings, oop kragbokse en swak herstelwerk hou veiligheidsrisiko’s vir inwoners in, sê AfriForum. Voorts is gesê verkeerde koppelings en onveilige substasies veroorsaak skade aan huishoudelike
toerusting.

“Daar moet begroot word vir bevoegde tegnici, behoorlike instandhouding en eindelik die algehele vervanging van die
netwerk,” sê AfriForum verder. Met verwysing na die dorp se knaende waternood, sê AfriForum, inwoners van Parys, maar veral van Schonkenville en Sisulu, ervaar gereelde wateronderbrekings wat om die beurt ingestel word. Meer dikwels as nie sit hierdie gebiede vir weke lank sonder water.

Waterpype bars byna daagliks en swak kommunikasie vanaf munisipale amptenare vererger die krisis. AfriForum dring aan op behoorlike bestuur en pro-aktiewe instandhouding, wat in die begroting uiteengesit moet word.

Wat padinfrastruktuur betref is gesê dat reën talle groot en diep slaggate veroorsaak weens jarelange gebrek aan instandhouding.

AfriForum het versoek dat die munisipaliteit die begroting vir die instandhouding van paaie aansienlik verhoog om onder meer
voorsiening te maak vir herstelwerk en stormwaterbeheer.

Die organisasie sê verder die bestaande rioolaanleg kan nie die huidige vloei hanteer nie, wat daartoe lei dat rou riool oorspoel.
“Die aanleg is ook nie behoorlik omhein nie en stel inwoners bloot aan ernstige gesondheidsrisiko’s,” is gesê.

AfriForum is daarom van mening dat opgradering van die aanleg, asook die pompe en rioolpypnetwerk, dringend nodig is.

Oor die stortingsterrein in Parys sê AfriForum dat die terrein onveilig is, nie behoorlik omhein nie, en glad nie na behore funksioneer nie. “Brande breek gereeld uit en afval word onwettig buite die terrein gestort.”

“Hierdie krisis moet met behulp van ’n behoorlike begroting hanteer word,” sê AfriForum. Die organisasie het ’n beroep op die Ngwathe munisipaliteit gedoen om onmiddellik met die gemeenskap in gesprek te tree en ’n duidelike plan van aksie voor te lê.

Die organisasie het ook aangedui dat dit gereed is om self oplossings te dryf, soos wat in ander gemeenskappe al gedoen is.

“Inwoners van Parys verdienbeter. Hierdie kommentaar is nie net kritiek nie – dit is ’n oproep tot aksie,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

* Gazette het verlede week volledig verslag gedoen oor die GOP vergaderings waar die kwessie oor munisipale dienslewering sterk na vore gekom het

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button