VS veeboere lei groot verliese weens veediefstal
Een van die groot struikelblokke in die provinsie is die onderrapportering van veediefstalsake.
Maandelikse verliese weens veediefstal in die Vrystaat wissel soms tussen R5 miljoen en R10 miljoen. “Ons kan eenvoudig nie bekostig dat hierdie misdaadpatroon voortduur nie,” sê professor Andries Raath, streekbestuurder van TLU SA Vrystaat.
Professor Raath is ook die nuwe voorsitter van die SAPD se Vrystaat Veediefstalforum – ’n liggaam wat daarop gemik is om strategiese samewerking tussen die SAPD, georganiseerde landbou en ander rolspelers te bevorder in die stryd teen veediefstal.
Raath beskryf die aanstelling as ’n roeping en sê dat dit vir hom persoonlik belangrik is om nou gewig in te gooi in hierdie kritieke tyd vir landbou. “Ons is nie by TLU SA betrokke om ons tyd te verwyl nie, maar om ons lede op hulle plase te hou, veilig, winsgewend en volhoubaar, terwyl ons ook die breër gemeenskap dien,” sê hy.
Veediefstal het ’n verwoestende impak op die volhoubaarheid van kommersiële boerdery, veral in provinsies soos die Vrystaat waar die rooivleisbedryf ‘n kernrol in voedselvoorsiening en werkskepping speel.
Hy beklemtoon dat die Veediefstalforum se doel is om ’n doeltreffende netwerk van voorkoming te vestig deur beter samewerking tussen die SAPD, staatsinstellings en die privaat sektor. “Ons visie is duidelik: meer effektiwiteit, beter uitkomste en ’n geïntegreerde strategie wat werk. Maar dit vra kollektiewe betrokkenheid, niemand kan alleen hierdie uitdaging oorwin nie.”
Een van die grootste struikelblokke in die bekamping van veediefstal is die onderrapportering van voorvalle. “Wanneer boere misdaad nie konsekwent aanmeld nie, lyk die amptelike statistiek beter as wat dit is, en dit beïnvloed die toekenning van hulpbronne. Ons pleit dus dringend by produsente om alles aan te meld sodat die volle impak van veediefstal op die sektor sigbaar is.,” het professor Raath gesê.



