Ngwathe-hofstryd: Hofbeslissing staan ná munisipaliteit se aansoek misluk
Regter J.P Daffue het vroeër in die Vrystaatse Hoë Hof bevind dat die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit nie sy grondwetlike, wetlike en administratiewe verpligtinge teenoor die inwoners van Parys, Heilbron, Koppies, Edenville en Vredefort nakom nie.
Die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit se aansoek om verlof tot appèl teen ‘n vroeëre hooggeregshofuitspraak wat bevind het dat die munisipale raad onder meer moet ontbind, en die provinsie by die munisipaliteit moet ingryp, het vanoggend in die Hooggeregshof in Bloemfontein misluk.
Die munisipale bestuurder en die munisipale raad se aansoek om verlof tot appèl is deur die hof van die hand gewys. Dié beslissing bevestig dat regter J.P. Daffue se gestruktureerde interdik geld wat onder meer bepaal het dat provinsiale ingryping ingevolge artikel 139 van die Grondwet gedoen moet word, en die munisipaliteit se finansiële en bestuurskrisis onder streng toesig geplaas moet word.
In die vroeëre uitspraak is ook bepaal dat daar elke drie maande onder eed aan die hof verslag gedoen moet word oor vordering.
Regter Daffue het in sy uitspraak vandag beklemtoon dat hy die betoë van die regspanne oorweeg het, maar nie oortuig is dat ’n hoër hof tot ’n ander beslissing sou kom nie. Die uitspraak bevestig ook dat die omvang van die munisipaliteit se wanbestuur, finansiële krisis en onvermoë om behoorlike basiese dienste aan inwoners te lewer so ernstig is dat die vroeëre beslissing – naamlik dat provinsiale ingryping moet plaasvind – nie net regmatig is nie, maar ook noodsaaklik.
Die munisipaliteit, munisipale bestuurder en munisipale raad se aansoek is met koste van die hand gewys.
Volgens Corné Cronjé, AfriForum se bestuurder van Gemeenskapstrukture, is vandag se uitspraak ’n belangrike oorwinning in die belang van die inwoners van die Ngwathe-munisipaliteit wat reeds jare gebuk gaan onder die gevolge van die munisipaliteit se korrupsie en verval. “Dit bevestig dat hul reg op basiese dienste soos water, vullisverwydering en finansiële deursigtigheid deur die hof beskerm word. Die provinsiale regering het nou ’n grondwetlike plig om daadwerklik in te gryp en die munisipaliteit weer funksioneel te maak,” verduidelik hy.
“Vandag is dit bewys dat gemeenskappe nie magteloos staan teenoor wanbestuur nie. Dit skep ’n belangrike presedent, naamlik dat gemeenskappe saam met burgerlike organisasies soos AfriForum die staat tot verantwoording kan roep en basiese dienslewering kan afdwing. Die hof het bevestig dat provinsiale en nasionale owerhede móét ingryp wanneer plaaslike regering misluk. Vir AfriForum en gemeenskappe landwyd is dit ’n kragtige regsinstrument om dienslewering te beskerm én te herstel,” sluit Cronjé af.
Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, verwelkom vandag se uitkoms, maar beklemtoon dat sy hoop dat die gemeenskap nou aktief betrek sal word by die herstel van die munisipaliteit. “Ons reik ’n hand uit na die munisipaliteit en hoop van harte dat hulle dit sal aanvaar en in die belang van die inwoners se welvaart sal optree.”
Ngwathe het laat Dinsdagmiddag in ‘n amptelike verklaring gesê kennis is geneem van die uitspraak, en dat die uitspraak bestudeer sal word waarna ‘n aankondiging gemaak sal word oor die pad vorentoe.



