Help Hetta gee waardigheid vir skooldogters
Meer as 3 600 skoolgaande meisies landwyd ontvang vanjaar noodsaaklike higiëne-pakkies deur Solidariteit Helpende Hand se HelpHetta-projek.
Die plaaslike tak van Solidariteit Helpende Hand het met Projek Help Hetta, die afgelope week uitgereik na Parys Christelike Skool (PCS) en Primêre Skool Parys waar toiletware en sanitêre produkte oorhandig is.
Projek HelpHetta
HelpHetta is in 2015 begin om meisies die vernedering te spaar van dae wat tot stilstand kom omdat hul huishoudings nie sanitêre produkte kan bekostig nie. Wanneer meisies nie toegang tot hierdie produkte het nie, mis hulle soms tussen 30 en 50 skooldae, asook sport en sosiale aktiwiteite.
Deur hierdie projek word hul waardigheid beskerm en kry hulle die kans om voluit deel te neem aan akademiese en buitemuurse programme.
Persoonlike higiëne word gesien as ’n platform vir die bemagtiging van meisies.
“Benewens die verspreiding van produkte, bied HelpHetta ook emosionele en geestelike
ondersteuning. ’n WhatsApp-uitsendingsgroep verseker dat Helpende Hand se span maatskaplike werkers weekliks boodskappe deel wat die meisies toerus om uitdagings soos verwerping, groepsdruk, mishandeling en selfverdediging aan te spreek,” sê Roux.
Die publiek word uitgenooi om finansieel by te dra of produkte te skenk om die projek verder uit te bou. Besoek www.helphetta.co.za vir meer inligting.


Meer oor Solidariteit Helpende Hand:
Solidariteit Helpende Hand is ‘n selfstandige organisasie binne die groter Solidariteit-groep wat daarna streef om sterk, selfstandige gemeenskappe te bou.
Hulle bied verskeie nasionale projekte aan wat gemik is op kleuters, skoliere, gesinne, bejaardes en gestremdes. Dit word aangevul met projekte deur vrywilliger-takke Taklede dien as Helpende Hand se hande en voete in die gemeenskap. Behoeftes in die gemeenskap word só geïdentifiseer en dan deur die tak aangespreek waar moontlik.
Al wat jy hoef te doen om die werk van Solidariteit moontlik te maak om op soveel maniere ‘n verskil in die gemeenskap te maak, is om so min as R50 ‘n maand by te dra vir Solidariteit Helpende Hand.
As jy graag meer wil weet van die organisasie, en hoe jy plaaslik betrokke kan raak, skakel vir Matty Last by 072 267 9758.



