Local newsNews

Testamentweek: Die verborge koste van eksekuteursfooie en hoekom vooruitbeplanning saak maak

Hoewel ’n wettige en uitvoerbare testament jou laaste wense formeel vaslê en verseker dat jou geliefdes voorsien word, is dit nie op sigself genoeg nie. ’n Groot koste wat dikwels oor die hoof gesien word en wat ’n boedel kan verklein, is eksekuteursfooie.

Volgens Bertie Nel, Hoof van Finansiële Beplanning en Advies by Momentum, bied ’n Testament ’n duidelike rigtingwyser vir die verdeling van bates, maar baie hou nie rekening met die koste van eksekuteursfooie.

Die eksekuteur wat jy aanwys, is verantwoordelik vir alle regs- en administratiewe take, van die invordering van bates en die afbetaling van skuld tot die uiteindelike uitbetaling van erflatings aan erfgename.

Wat behels die fooie?
In Suid-Afrika is die maksimum wettige fooi wat ’n eksekuteur mag hef 3.5% van die bruto waarde van die boedel, plus 6% van enige inkomste wat ná die dood verdien word. Op ’n boedel van R2 miljoen kan die fooi byvoorbeeld R70 000 beloop, BTW uitgesluit. Belangrik is dat die fooi bereken word op die bruto waarde, nie die netto waarde ná skuld nie. Dit kan beteken dat ’n familie in ’n moeilike posisie geplaas word as die primêre bates, soos ’n huis of ’n besigheid, nie maklik in kontant omgeskakel kan word nie.

As daar nie genoeg kontant is om die koste te dek nie, kan bates gedwing word om verkoop te word – soms teen ’n lae waarde – wat erfgename met minder laat as verwag.

Lewensversekering en boedel-likiditeit
Nel wys daarop dat lewensversekering en boedel-likiditeit dikwels verwar word. ’n Polis betaal gewoonlik aan ’n benoemde begunstigde en vloei nie deur die boedel om skuld en fooie te dek nie, tensy dit spesifiek só gestruktureer word.

Die waarde van deeglike beplanning
Daarom beklemtoon Nel die belangrikheid van holistiese boedelbeplanning. Dit gaan verder as net ’n testament – dit behels strategiese finansiële beplanning om seker te maak daar is voldoende likiditeit. Dit kan insluit ’n aparte polis wat direk aan die boedel uitbetaal of ’n beleggingsproduk wat maklik gelikwideer kan word sonder boetes.

“Wanneer jy vir elke moontlike scenario voorsiening maak – van boedelbelasting tot kapitaalwinsbelasting – gee dit gemoedsrus,” sê Nel. “Dit verseker dat jou erfgename die volle waarde van hul erfenis ontvang sonder onaangename verrassings.”

’n Ervare finansiële adviseur kan jou help om die belastingimplikasies van jou bates te verstaan, jou opsies te evalueer en ’n plan saam te stel wat by jou unieke omstandighede pas.

Nel sluit af:

“’n Testament is ’n kragtige instrument, maar dit is net een deel van die legkaart. Die ware waarde van ’n goed beplande boedel lê daarin dat dit jou nalatenskap beskerm en verseker dat dit presies soos beplan na jou geliefdes oorgedra word. Deur saam te werk met ’n kundige adviseur kan jy verder beweeg as net ’n testament en ’n sterk finansiële vesting bou vir jou familie se toekoms.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button