Local newsNews

Direkte kraglyn moet watersuiweringsaanleg aan die loop hou

Die projek moet teen Februarie 2026 voltooi wees.

‘n Direkte geïsoleeerde oorhoofse kraglyn na Parys se watersuiweringsaanleg gaan uiteindelik realiseer. Die 5 maande kontrak teen ‘n koste van R5,4m word deur Departement Waterwese en Sanitasie gefinansier as deel van die opknapping van die dorp se suiweringsaanleg. Die projek moet teen Februarie 2026 voltooi wees, het Ngwathe se Uitvoerende Burgemeester, rdl. Victoria De Beer-Mthombeni Dinsdag gesê toe die projek amptelik geloods is.

Die direkte kraglyn moet verseker dat die suiweringsaanleg kan funksioneer, selfs tydens kragonderbrekings. Tans staan die suiweringsanleg telkens wanneer Eskom of munisipale rotasie beurtkrag toegepas word. Dit het ‘n ernstige impak op watervoorsiening.

 

Die begin van die projek vir die aanlê van ‘n direkte kraglyn na Parys se watersuiweringsaanleg is Dinsdag amptelik deur Ngwathe se burgemeester aangekondig.

Volgens die burgemeester sal die projek gemeenskapsdeelname en plaaslike ekonomiese ontwikkeling bevorder met werksgeleentheid vir 11 mense , waarvan die meerderheid vroue. Sy het ook aangedui dat van plaaslike subkontrakteurs gebruik gemaak sal word.

Die burgemeester het Dinsdag gesê die behoefte vir ‘n direkte kraglyn is reeds in 2023 geïdentifiseer na grootskaalse protesoptrede oor watertekorte. Op ‘n vraag oor waarom die projek nou eers van die grond af kom, het sy geantwoord dat die fondse nou vir die huidige boekjaar ontvang is.
Opposisiepartye in die raad en Save Ngwathe het ook bevestig dat al van voor 2023 hard baklei is vir die direkte kraglyn. Voorstelle hiervoor is onder meer in die sogenaamde “war room’ vergaderings tussen die munisipaliteit, Departement Waterwese en Sanitasie en Save Ngwathe gemaak, en is toe al goedkeuring vir die fondse gekry, sê Save Ngwathe.

Die nodigheid vir ‘n direkte kraglyn is as prioriteit geïdentifiseer omdat die koste om rugsteun kragopwekkers aan die loop te hou, nie volhoubaar is nie.

Herstel en opgradering van Parys se watersuiweringsaanleg

Toe die R66m projek wat deur die regering befonds word vir die herstel en opgradering van Parys se watersuiweringsaanleg in Augustus 2023 bekendgestel is, is gesê dat die projek agt maande sou neem om te voltooi, Twee jaar later is die projek steeds nie voltooi nie, en het werk vroeër vanjaar tot ‘n stilstand gekom nadat Setshabelo Trading, die kontrakteur wat in 2023 aangestel is, se kontrak in April beeïndig is. Daarna is ‘n nuwe kontrakteur aangestel ingevolge noodverkrygingsregulasies.

Die munisipaliteit het die afgelope maande herhaaldelik gesê dat werk by die suiweringsaanleg sloer weens talle onvoorsiene probleme wat opduik. In Augustus is tydens ‘n veelparty wetgewende provinsiale oorsigkomitee-besoek gesê dat voorsien word dat die projek na verwagting teen April 2026 voltooi sal wees,. Die realiteit is egter dat selfs wanneeer die dorp se watersuiweringsaanleg weer ten volle in bedryf sal wees, die munisipaliteit steeds sal sit met ‘n tekort van ‘n geraamde sewe megaliter water per dag, is tydens die oorsigbesoek gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button