Local newsNews

Tuintyd is asemskeptyd

Tuiindag word Sondag gevier, en het navorsing bewys dat mense baie tyd aan tuinmaak spandeer, maar té min tyd om hul tuine te geniet en te ontspan in die tuin. Gaan uit en geniet jou tuin hierdie naweek.

Tuindag word Sondag 12 Oktober gevier. Die dag gee mense regoor Suid-Afrika die geleentheid om hul groen ruimtes – ongeag hoe groot dit is – te vier en die voortdurende terapeutiese uitwerking van hierdie blaarryke rusplekke aan te gryp. Of jy nou ‘n groentjie-tuinier is met net ‘n vensterbank vol potplante, of ‘n ervare tuinier met ‘n uitgestreke grasperk.

Tuindag is  die perfekte geleentheid om al jou harde werk en jou groen ruimtes te vier, deur ‘n slag terug te sit en jou tuin te geniet., of  jou eie geheime oor hoe om te herplant, bolle op te deel of steggies te maak met tuinvriende en familie te deel.

Onlangse navorsing oor tuingewoontes het gewys dat mense te min kans kry om in hul tuin te ontspan, en meer tyd wil hê om die vrugte van hul arbeid te pluk.

Maak tyd vir ontspan in jou tuin

Die studie wys ook dat die meeste mense meer tyd (20%) aan tuinwerk as aan ontspanning in die tuin bestee. Sommiges bestee selfs die ekwivalent van ’n maand per jaar aan plant, onkruid uittrek en watergee. Geen wonder dat meer as twee derdes (70%) wens hulle kan langer in hul tuin ontspan nie.

Foto ter illustrasie vir Tuindag
Gaan uit en geniet jou tuin om Sondag Tuindag te vier. Foto: Liezl Scheepers.

Die navorsing het gewys mense is op hul gelukkigste in hul tuin. Dis vir hulle selfs lekkerder as ’n aand uit (18%) of televisie kyk (16%). Nege uit tien (88%) deelnemers aan die studie sê die tyd wat hulle buite in hul tuin deurbring, hou gesondheid- en welstandvoordele in.

Die 21ste eeu is die ene gemaksug en verbruikersdruk. Die natuur word vir ons iets vreemds, veral as ons in ’n stad woon,” sê die tuinskrywer Jane Griffiths. “My organiese groentetuin is my oase en toevlugsoord, maar dit gee ons ook gesonde organiese groente en kruie. Ek moedig almal aan om dié Tuindag hul selfone eenkant te sit en die TV af te skakel. Gaan  buitentoe na jou eie tuin, of vriende s’n, en kom weer in voeling met die natuur.

Tuinmaak ‘n wonderkuur

Almal het ongelukkig nie groen vingers nie, en soms weerhou mense  hulself van een van die mees gesondste dinge om te doen – tuinmaak. Party kan eenvoudig nie meer nie, as gevolg van gesondheid, bewegings beperkinge, en sommige omdat hulle nie meer toegang tot ’n tuin/ beddings het nie.

Wat die voordeel van tuinmaak?

* Dit word gesien as matige intensiteit oefening

* Dit het ‘n positiewe impak op geestesgesondheid

* Dit verhoog lewenstevredenheid

* Verminder simptome van depressie

* Verhoog konsentrasie en aandag

Dit klink amper soos ‘n wonderpil, maar ‘n paar minute se grou en speel in die tuin is so goed soos ‘n wonderkuur! Ons leef tans in ‘n baie onsekere tyd. Ons bekommernisvlakke het in die laaste jaar verdubbel. Om kos te koop is baie belangriker as ‘n mooi bedding of tuin – en dit is te verstane.

Benut jou tuin

Die goeie nuus is dat tuinmaak nie noodwendig geld moet kos nie. Op die regte tyd kan net die herplant van huidige plante in jou tuin ‘n groot verskil maak.

  • Om ‘n leeshoekie te skep in jou tuin is so maklik soos om ‘n ou stoel op ‘n spesiale plekkie in jou tuin te plaas.
  • Nog ‘n wenk is om in plaas daarvan om voor die kassie te eet, jou bord kos uit te dra en onder ‘n boom in jou tuin te eet.
  • Plant groente, en maak die kinders deel daarvan.
  • Waar daar gesondheidsinperkinge is, kry ‘n tuindiens om jou tuin in ‘n paradys te omtower en gaan spandeer tyd buite.
  • As jy nie self die toerusting het, kry ‘n tuindiens en hou jou huurplekkie in stand, sodat jyself ook soms lus het om in die beddings te vroetel en buite te wil eet of lees.

Ons tuine weerspieël tog ons siele. As jy ‘n geliefde aan die dood moes afstaan in hierdie tye – plant ‘n gedenkbedding of ‘n boom sodat jy daar kan sit en ook so herinneringe aan jou geliefde kan koester, want begraafplase bied lankal nie meer vir ons die vertroosting nie. Skep vir jouself (of deur van ‘n diens gebruik te maak) ‘n eie veilige hawe in jou tuin. Daar waar jy kan wegraak, kan luister na die natuur se geluide en naby aan jou Skepper kan wees.

Dit is oor en oor bewys – tuinmaak of selfs net om in jou tuin te wees, maak mense gelukkig en rustig, en om jou tuin te kan deel met iemand wat nie toegang het tot een nie, maak jou ’n besonderse omgee mens! Gaan uit, geniet jul tuine!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button