Local newsNews

Drie wat hul voordoen as Padongelukfonds verteenwoordigers jaag klaers glo R100 000 uit die sak

Die hof het borg aan al drie die beskuldigdes gegee en sal hulle nou in November weer voor die hof verskyn.

Drie mans wat hulle na bewering voorgedoen het as werknemers of verteenwoordigers van die Padongelukfonds (RAF) en toe twee van hul slagoffers uit R100 000 verkul het, sal op 17 November in die Gespesialiseerde Handelsmisdaadhof in Klerksdorp verskyn.

Pule Samuel Mosweu (39), Boitumelo Stanley Mosalashuping (79) en Nakampe Lebea (26) het gister reeds voor die hof verskyn op klagte van bedrog en geldwassery nadat hulle deur die Provinsiale Eenheid vir Ondersoeke van Handelsmisdaad gearresteer is.

Boodskap oor oorbetaling vals

Die klagte spruit uit bewerings dat hulle op 12 Junie 2019 aan een van die klaers ‘n brief gegee het wat glo van RAF afkomstig was. In die brief is gesê dat hy ’n uitstaande eis van R485 480,40 het.

Later het die klaer ook ’n SMS ontvang wat aangedui het dat ’n bedrag van R635 597,60 in sy bankrekening inbetaal is. Hy is meegedeel dat R150 000 daarvan per abuis oorbetaal is en dat hy dit moet terugbetaal. Hy het toe R100 000 uit sy vriendin se bankrekening – die tweede klaer in die saak – aan Mosweu oorbetaal, sê Sivenathi Gunya, woordvoerder van die polisie in Noordwes.

Mosweu het vervolgens R50 000 na Mosalashuping se rekening en R9 500 na Lebea se rekening oorgeplaas. Ondersoek het egter aan die lig gebring dat die boodskap oor die R635 597,60-oorbetaling vals was en dat daar geen uitstaande eis by die RAF was nie. Die twee klaers het ’n gesamentlike verlies van R100 000 gely.

Die staat beweer dat die beskuldigdes saamgespan het met die doel om die klaers te mislei.

Beskuldigdes kry borg

Borg van R3 000 is deur die hof aan Mosweu en Lebea toegestaan, terwyl Mosalashuping borgtog van R1 000 gekry het. As deel van hul borgvoorwaardes mag hulle nie met staatsgetuies inmeng nie en moes hulle hul paspoorte aan die ondersoekbeampte oorhandig.

Die Direkteur van Openbare Vervolging in Noordwes, doktorRachel Makhari, het die vinnige optrede en toewyding van wetstoepassers geloofom die beskuldigdes in die hof te bring.

Sy het ook die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se verbintenis herbevestig om handelsmisdade te bekamp en die beginsels van geregtigheid en integriteit binne die openbare diens te handhaaf.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button