Meer as ‘n 1 000 in VS gearresteer met Operasie Shanela
Die operasie het ook gelei tot die beslaglegging en herwinning van dwelms, vuurwapens, tabakprodukte, alkoholiese drank, smokkelware, gevaarlike wapens en voertuie.
’n Totaal van 1 422 verdagtes is die afgelope week tussen 3 en 9 November in die Vrystaat-in hegtenis geneem tydens Operasie Shanela.
In die Lejweleputswa-distrik is die operasies op die Goudveld gefokus, in onder meer Odendaalsrus, Bothaville, Thabong, Welkom en Virginia. In die Thabo Mofutsanyana-distrik het die fokus geval op Bohlokong en Phuthaditjhaba, terwyl die Mangaung-metro op Mangaung, Boithuso, Selosesha en Wepener gerig was. Die Fezile Dabi-distrik het hoofsaaklik op Sasolburg gekonsentreer.
Van die 1 422 verdagtes wat gearresteer is, was 388 gesoekte individue wat deur speurders opgespoor en in hegtenis geneem is. Dit sluit 101 verdagtes in wat vir aanranding gesoek is, 21 vir verkragting, en ander vir vir klagtes wat wissel van moord, poging tot moord en verskeie seksuele misdrywe.
’n Verdere 1 034 verdagtes is in hegtenis geneem vir misdade wat tydens die operasie gepleeg is, insluitend:
• 55 vir die besit van gevaarlike wapens
• 81 vir die besit van dwelms
• 53 vir opsetlike saakbeskadiging
• 55 vir bestuur onder die invloed van bedwelmende middels
• 16 vir huisbraak
• en verskeie ander oortredings.


Die polisie het 113 ongedokumenteerde buitelandse burgers in hegtenis geneem, hoofsaaklik van Lesotho, Malawi, Mosambiek en Nigerië.

Operasie Shanela, wat gesamentlik deur verskeie wetstoepassingsagentskappe regoor die provinsie uitgevoer is, het ook gelei tot die beslaglegging en herwinning van dwelms, vuurwapens, tabakprodukte, alkoholiese drank, smokkelware, gevaarlike wapens en voertuie.
Alle vuurwapens wat tydens die operasies herwin is, sal vir ballistiese toetse gestuur word om vas te stel of dit in die pleeg van ander misdade gebruik is, het sersant Sina Mpakane gesê.



