Local newsNews

Ernstige waarskuwing: R59-gate – duisende se skade, talle staan gestrand

Hoewel van die slaggate Donderdag op die R59 herstel is, is daar groot en diep slaggate wat met die swaar reën van die afgelope week 'n ernstige gevaar skep vir motoriste.

Motoriste word ernstig gewaarsku om bedag te wees op groot en diep slaggate op die R59 wat met die afgelope week se reën ‘n selfs nog groter gevaar skep.

Vanoggend het vyf voertuie binne ‘n halfuur gestrand langs die pad gestaan met band- en wielvelling (rim) skade, asook gekraakte windskerms.

Louise Loots, ‘n inwoner van Parys was een van die motoriste wat vanoggend rondom 07:00 skade gehad het aan twee bande en beide wielvellings, asook die windskerm van die Volkswagen Polo waarmee hulle na Vanderbijlpark onderweg was.

Daar was toe reeds twee ander voertuie wat ook gestrand langs die pad gestaan het, vertel Loots.

Sy sê die gate is op ‘n draai en is daar geen plek om uit te swaai vir die slaggate nie.

“Iewers gaan iemand hul lewe verloor. As jy na links uitswaai is jy in die veld in, en swaai jy uit na regs, is jy voor die aankomende verkeer in.”

Die slaggat wat hul motor getref het is net verby die Parys-vliegveld.

Loots sê motoriste is nie bedag op die slaggate tussenin gedeeltes waar herstelwerk aan die pad gedoen is nie. “Jy sien die swart stuk teer waar gewerk is aan die pad, en voor jy weet is jy op die slaggat.”

Slaggate op die R59
Motoriste is nie bedag op die slaggate tussenin gedeeltes waar herstelwerk aan die R59 gedoen is. Dit word vererger wanneer sig swak is soos in reënweer.

Nog ‘n motoris, Retha Cronje, wat as Roete bestuurder  by die Vaal Plaza-tolhek N1 suid werk, en soos baie ander motoriste daagliks  tussen Parys en haar werksbestemming pendel, het verlede week skade gehad aan ‘n band en wielvelling asook ‘n windskerm wat vervang moes word. Dit nadat sy kort tevore ook ‘n windskerm moes vervang. Die skade aan die band en wielvelling alleen beloop R2 900.

Cronje vertel dat sy op pad van die werk na Parys was, toe haar motor se band die slaggat sowat 2km voor die Parys-vliegveld op die R59 getref het.

Haar skade was voordat daar Donderdag aan die pad gewerk is, en was die twee diep slaggate steeds Vrydag daar, vertel sy.

Cronje ry al vir meer as vyf jaar daagliks die R59. “Mens voel nie meer veilig om hierdie pad te ry nie,” sê sy.

Sy vertel dat sy daagliks motoriste langs die pad gestrand sien met bandskade, en moes voorheen self al ‘n paar windskerms vervang.

Annemarie du Toit wat daagliks die R59 tussen Parys en Vredefort ry, vertel dat die pad bykans onrybaar is op plekke veral duskant Vredefort in die rigting van Kroonstad. Ook hier waag jy jou lewe,  en het sy self  al groot skade aan bande gehad.

Slaggate op die R59/R721
Slaggate op die R59/R721 wat al vir maande bykans onrybaar is.

Verskeie ernstige botsings is die afgelope twee weke op die R59 gerapporteer en het nege mense onder meer in twee afsonderlike botsings op die gedeelte van die R59 tussen die N1 en die Vaalpark-afrit gesterf.

Slaggate waarop motoriste bedag moet wees op die R59

  1. R59 by die afrit na Vaalpark
  2. R59 beide rigtings tussen Parys en die N1.
  3. R59 tussen Parys en Vredefort
  4. R59 duskant Vredefort rigting Kroonstad.

Herstelwerk aan slaggate

Die R59 dra swaar verkeer daagliks en is ook die alternatiewe roete vir die N1.

Hoewel daar sowat twee maande gelede ‘n daadwerklike poging aangewend is om meeste van die slaggate op die R59 veral tussen die N1 en Parys te herstel, het nuwe gate gevorm.

Verlede week is  begin met noodherstelwerk by van die slaggate op die R59 tussen Parys en die N1  en is die voorlopige aanduiding dat voortgegaan sal word met die noodherstelwerk sodra weerstoestande dit toelaat.

Hou egter in gedagte dat die herstelwerk wat gedoen word net tydelik is, en dat reënweer telkens weer skade aan die padoppervlak veroorsaak.

Gazette het  navraag by die Vrystaatse Department van Paaie gedoen oor wat die aksieplan vir die R59 is, en het die departement se woordvoerder, Hilary Mophethe onderneem om terugvoer te gee.

Met die feestyd wat voorlê en die roete wat na verwagting dan selfs meer verkeer sal dra, is daadwerklike aksie nodig om ‘n meer permanente oplossing vir die R59 se slaggate te kry.

Motoriste word aangeraai om:

  • Drasties spoed te verminder
  • Handhaaf veilige volgafstande en wees bedag op voertuie wat uitswaai vir slaggate.
  • Wees veral versigtig saans en in reënweer wanneer sig belemmer word.
  • Wees bedag op slaggate tussenin gedeeltes waar jy kan sien gewerk is aan die pad.
  • Slaggate is ook moeilik sigbaar waar daar skadus op die pad is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button