Local newsNews

Hier woon Boomstraat se feetjies

Die boom gryp die verbeelding van oud en jonk aan en word hier gereeld gestop vir 'n foto.

‘n Fantasiewêreld gryp die verbeelding aan voor die huis van Christel Smith in Boomstraat. Hier naby die dorp se bekende hangbrug trek die witstinkhoutboom met sy kunstige, kleurvolle kabouterhuisies jou aandag – van die fyn deurhandvatseltjies tot die wit klippaadjies en vensterbanke met mosaïekversierde teëltjies. Gereeld kom klop ‘n kinderhandjie aan die kabouterhuisdeurtjies of staan besoekers in verwondering en kyk na die kunswerk.

Christel het ses jaar gelede van Kempton Park na Parys verhuis. Haar man, Paul, was die een wat altyd tuin gemaak het. ‘n Jaar na hul intrek in die dorp is Paul oorlede en het die tuinmaak vir Christel haar terapie geword.

Sy wou iets skep wat vir ander ook mooi sou wees

Sy het lank met die idee geloop. Toe verf sy ‘n stomp met die feetjietema, en daarna die boom met sy unieke stam voor haar huis. Sy wou iets skep wat ook vir ander mooi sou wees, vertel Christel. Sedertdien het die boom haar al soveel vreugde gegee.

Vroeër was daar feetjies en dwergies, vasgesement om die boom, en ook in die boom, maar net ‘n maand nadat Christel hulle by die boom geplaas het, het diewe dit weggedra. Daarna het sy onlangs ook klein ornamentele uiltjies in die boom geplaas wat ook twee weke gelede deur diewe weggedra is.

Maar die diefstal steel nie Christel of die vele wat stop by haar feetjieboom se vreugde nie. Gereeld word hier foto’s geneem. “Op ‘n dag het ‘n man hier met sy fiets gestop en gevra of ek aan feetjies glo,” vertel Christel. Kort daarna was hy terug met sy vrou en kinders om die mooi met hulle te deel.

Feetjieboom in Boomstraat, Parys
Die boom met sy feetjiehuisies in Boomstraat, Parys, gryp die verbeelding van oud en jonk aan. Foto: Liezl Scheepers

Feetjies slaap in die dag

Wanneer die kinders vra waar die feetjies is, verduidelik Christel dat feetjies slaap in die dag. Christel se feetjieboom het sedert sy met die inisiatief begin het, ook van haar bure geïnspireer om haar voorbeeld te volg.

Christel Smith die skepper van die feetjieboom
Christel Smith by een van die huisies wat sy kunstig geskep het. Foto: Liezl Scheepers
Feetjieboom, Boomstraat
Vroeër is die feetjies en kabouters wat Christel by die boom geplaas het en vasgesement het, gesteel.

Haar buurvrou, Petro Bezuidenhout het daarna ook ‘n feetjieboom geverf, en het die karaktervolle vergroeisels aan ‘n boom voor Bezuidenhout se erf, beertjiegesigte gekry.

Vergroeisels op die boom in Boomstraat, Parys, het beertjiegesigte gekry
Christel se buurvrou, Petro Bezuidenhout, het die vergroeisels op die boom voor haar huis omskep in beertjiegesigte. Foto: Liezl Scheepers

In 2024 moes Christel alles om haar boom oordoen as gevolg van kontrakteurs wat optiese veselkabel moes installeer, maar solank as wat ‘n mens kan droom, sal feetjies en kabouters hier ‘n huis hê by Boomstraat se bome.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button