Casino-roof verdagte nog soek
Mense wat enige inligting het wat die polisie kan help in hul ondersoek na die besigheidsroof, is gevra om adjudant-offisier Brian Janse van Rensberg te skakel by 082 466 8094, of die Stop Misdaadnommer by 08600 10111.
Die polisie soek steeds na die verdagte wat verbind word met die roof op 21 November by Chillnett Internet kafee/casino in Father Balinkstraat.
Die roof het vroeg die oggend gebeur toe personeel die onderneming se deure om 09:00 oopgesluit het vir die dag se besigheid.
Die verdagte het klaarblyklik saam inbeweeg en die deure weer gesluit. Die personeel is toe gedwing om die kluis oop te maak, en is vasgebind voordat die verdagte op die vlug geslaan het.
Paniekknoppie geaktiveer
Hulle kon later daarin slaag om die paniekknoppie te aktiveer waarop die onderneming se sekuriteitsmaatskappy gereageer en die polisie ontbied is.
Polisie en sekuriteitspersoneel kon die personeel binne die toegesluite gebou hoor, maar omdat dit nie op daardie stadium seker was wat die presiese omstandighede binne die gebou was nie, is dit as ‘n gyselaarsituasie hanteer.
Naas Parys SAPD, Vispol Parys en Parys Speurdiens, is die polisie se K9-eenheid van Kroonstad, asook ‘n gyselaarsonderhandelaar van die polisie, taakspanne van die Distrikseenheid vir die bestryding van georganiseerde misdaad, en die polisie se taktiese reaksiespan na die toneel ontbied.
Polisielede is daarna in die gebou in en kon die personeel veilig uit die gebou beweeg. Niemand is in die voorval beseer nie en geen skote is afgevuur nie.
Die donderbuise wat deur die taakspanne in die gebou ingeneem is as voorsorgmaatreël in die hantering van die situasie, is volgens protokol nadat personeel uit die gebou gekry is, veilig in die straat gedeaktiveer.



