Uitspraak voorbehou in AfriForum-saak oor implementering van hofbevel in Ngwathe
'n Hooggeregshofuitspraak in Junie 2025 dat die Ngwathe raad moet ontbind en die provinsiale regering by die munisipaliteit moet ingryp kon tot nou toe steeds nie geïmplementeer word nie.
Regter Ingrid Opperman het uitspraak voorbehou in die burgerregte organisasie, AfriForum se artikel 18(3)-aansoek om ’n vroeëre uitspraak te laat implementeer om die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit onder administrasie te plaas, hangende dié munisipaliteit se appèl daarteen.
Die saak het vandag in die Vrystaatse Hooggeregshof in Bloemfontein voorgekom.
Die Hoë hof het in Junie 2025 in ‘n opspraakwekkende uitspraak beveel dat die Ngwathe-munisipaliteit se raad moet ontbind en die provinsiale regering by die munisipaliteit moet ingryp. Sedertdien is die munisipaliteit se aansoek om verlof tot appèl in dié saak in Augustus 2025 van die hand gewys.
Die munisipaliteit het hom daarna tot die Hoogste Hof van Appèl gewend, maar hul appèlaansoek daar is ook in Oktober 2025 van die hand gewys. In dié uitspraak het die hof beslis daar is “geen redelike vooruitsig van sukses in ’n appèl nie en geen ander oortuigende rede waarom ’n appèl aangehoor behoort te word nie”.
Intussen het die munisipaliteit aangedui dat hy die uitspraak in die Konstitusionele Hof gaan appelleer.
Kragtens regter J.P. Daffue se Junie 2025-hofuitspraak moet die Vrystaatse premier, die provinsie se uitvoerende raad en die ander betrokke respondente in die saak binne die raamwerk van artikel 139(5)(a) en (b) van die Grondwet:
- ’n herstelplan implementeer om dienslewering in die munisipaliteit te herstel en toe te sien dat die munisipaliteit sy finansiële verpligtinge nakom;
- die Ngwathe- munisipale raad ontbind en ’n administrateur aanstel totdat ’n nuwe munisipale raad verkies kan word;
- elke drie maande onder eed aan die hof verslag doen oor die vordering wat in die bestuur van die munisipaliteit gedoen word; en
- ’n tydelike begroting, inkomste-genererende maatstawwe of enige ander maatstawwe goedkeur wat uitvoering sal gee aan die herstelplan.
Daffue het ook beveel dat die Ngwathe-munisipaliteit tesame met agt ander respondente in die saak, waaronder die premier, AfriForum se regskoste moet betaal.
Schalk Burger, voorsitter van AfriForum se Parys-tak, sê dat die gemeenskap hoopvol is dat die provinsie nou, ongeag die hofuitspraak, ferm sal optree en inwoners se regte in ag sal neem. “Al wat ons vra, is om ’n goed-funksionerende munisipaliteit te hê waar die nodige dienste aan alle inwoners gelewer sal word. Ons wil graag met die munisipaliteit hande vat om ons dorpe te verbeter, maar tans word ons hand weg geklap,” het Burger gesê
AfriForum het ’n beroep op die gemeenskap gedoen om betrokke te bly, onreg te rapporteer en saam te werk om plaaslike regering verantwoordbaar te hou. K


