Vir oulaas ‘n kans om die sterrehemel op sy beste te bekyk
Die einde van die sterrekykseisoen kom nader. Met die aanbreek van die lente raak die waarskynlikheid van bewolkte weer groter en die sekerheid dat die sterre hoegenaamd sigbaar sal wees kleiner. Daar is ook ander redes hoekom die sterre in die wintermaande beter te sien is.

In die somer verwak die hoër voggehalte van die lug en wam lugstrominge die sig. Boonop skuif die sigbare snit van die sterrehemel deur die jaar stadig van oos na wes, en toevallig is die gedeelte wat tussen Oktober en Januarie gesien kan word nie so interessant nie. So byvoorbeeld is die Suiderkruis dan vroegaand reeds onder die horison.
Die sterrekykuitstappie wat op 16 September by die sterrewag op Deelfontein sal plaasvind, bied dus vir oulaas ´n goeie geleentheid – veral omdat die meeste planete hierdie winter aan die ander kant van die son was, en nou vir die eerste keer weer sigbaar sal wees sonder om te laat wakker te bly. Veral Saturnus is altyd ´n treffer om deur ´n teleskoop te bekyk.
Soos gewoonlik lei Frik le Roux van die Pretoria-tak van die Astronomievereniging van Suid- Afrika die aanbieding. Dit begin 19:00 met ´n aanbieding in die seminaarkamer langs die sterrewag, en sal tussen 21:00 en 22:00 eindig. Tref ten spyte van die warmer weer voorsorg teen die koue met warm klere, skoene en ´n mussie.
Kinders is baie welkom en kan (tot sestienjarige ouderdom) verniet bywoon.
Padaanwysings na Deelfontein en die kostes vir volwassenes is op www.deelfontein.co.za verkrygbaar, of soek Deelfontein
Guest Farm op Google Maps. Bespreek asseblief vooraf by 083 280 9784 of gerhard@deelfontein.co.za. Deelnemers is welkom om reeds vanaf 17:00 met ´n piekniekmandjie op te daag en aandete op die perseel te geniet. Tafels en stoele is beskikbaar, sowel as kookwater vir koffie of tee.