Tiptol kom kuier graag in Parysenaars se tuine
Tiptol kom kuier graag in Parysenaars se tuine
Ferdie Jordaan het die besondere foto van ‘n Tiptol in die Parys-omgewing geneem.
Die Tiptol is ‘n algemene standvoël wat normaalweg in digte plantegroei soos woude en ruigtes voorkom, maar omdat daar gewoonlik kos in dorpe en stede is, is die Tiptol ook ‘n bekende tuinvoël, vertel Hansie Bekker van die Feathers voëlklub.
Die Tiptol word in party voëlboeke ingedeel onder insekvreters met medium-grootte snawels, maar hulle vreet ook vrugte, bessies, blomblare en nektar.
In Suid Afrika is daar vier verskillende tiptolle naamlik die Kaapse Tiptol / Cape Bulbul met sy wit oogring, wat in die Wes-Kaap en die kusgebiede van die Noord- en Oos-Kaap voorkom. Die Rooibektiptol/ Bush Blackcap kom in die bergagtige gebiede en woude aan die oostekant van die land voor. Die Swartoogtiptol / Dark-capped Bulbul kom meer in die oostelike en noordelike dele van die land voor. Die Swartoogtiptol se gebied oorvleuel in sommige gebiede met die van die Rooi-oogtiptol / African Red-eyed Bulbul wat in die westelike droeër en half-droë gebiede van die land voorkom, waar hul gebied plek-plek weer met die van die Witoogtiptol oorvleuel.
Die Rooi-oogtiptol, met sy rooi oogring, is bietjie groter as ‘n mossie en is die algemene Tiptol in die Parys-omgewing. Hy kom in bykans elke tuin voor. Sit net ‘n appel op ‘n plek in die tuin en die Tiptol sal vinnig saam met die Kuifkop- en Rooikophoutkappers kom ondersoek instel en eet, vertel Hansie.
Die Rooi-oogtiptol is ‘n lawaaierige voël wat in pare of groepe rondbeweeg. Die jongetjie lyk soos die volwassenes, maar die oogring is kleiner met ‘n gelerige en later pienk kleur.
Die Swartoogtiptol / Dark-capped Bulbul
Die Tiptol is monogaam en is nie ‘n bedreigde spesie nie.
Die wyfie bou die koppievormige nes terwyl die mannetjie naby sit en sing. In ons omgewing lê die wyfie 2 of 3 eiers van November tot Januarie, en die kleintjies broei binne 12 tot 13 dae uit.
Die Rooi-oogtiptol word soms deur die Bontnuwejaarsvoël geparasiteer, met ander woorde laasgenoemde lê sy eiers in die Tiptol se nes en die Tiptol moet dan daardie kuikens, wat groter as ‘n tortelduif word, grootmaak.
(Bron: Die Voëlgids van Suider Afrika; Ulrich Oberprieler en Burger Cillié. Ons dank aan Hansie Bekker vir die navorsing)