Borskanker: My pad van genade
“Ek kan nie genoeg vertel hoe belangrik voorsorg, nasorg en opvolgtoetse is nie,”

Dit het begin met gereelde steekpyne in haar regterbors. Bets Caldwell was bekommerd. Sy is dokter toe en was die diagnose inflammasie in haar bors. Selfs ‘n mammogram het niks opgetel waaroor daar kommer was nie, maar sowat drie weke
later het haar regterbors se tepel vergroot en geswel. Sy is dadelik na ‘n spesialis verwys wat ‘n biopsie gedoen het. Die uitslag was
verpletterend – aggresiewe kanker.
Bets onthou dit soos gister – “jy word yskoud as jy die woord kanker hoor. Vir my was dit ‘n groot woord.” Bets het nie
geweet wat voorlê nie, al het sy presies geweet wat die implikasie kon wees. Enkele maande tevore het sy en haar man, Richard,
hul dogter aan die dood afgestaan weens breinkanker.
‘n Hartseer en traumatiese pad wat hulle saam met hul dogter moes stap, want om jou kind so te sien is swaar, vertel Bets. “Mense sê altyd dit is erg om ‘n kind te verloor, maar nooit het ek kon dink hoe erg dit werklik sou wees nie.”
Na Bets se diagnose het die eensame en lang pad van agressiewe chemoterapie behandeling begin. Vier weke waarin sy
so siek was dat haar man dikwels by haar gekom het en moes seker maak of sy nog asemhaal, vertel sy.
Die ergste was wanneer sy aan haar kop gevat het en met bosse hare in haar hande gesit het as gevolg van die chemo. Tot op
‘n dag wat sy die moed bymekaar geskraap het om Richard te vra om haar hare met ‘n knipper af te skeer. Na die chemo moes sy
ook ‘n mastektomie ondergaan.
In Sally Martin Park waar die egpaar die afgelope vier jaar woon, het hul vriendekring laer getrek om Bets en Richard. Vanjaar is dit twee jaar na daardie skokdiagnose en het sy volkome herstel.
Daar is nog nie weer kanker opgetel met die opvolgtoetse nie.
Omdat haar ouma aan borskanker oorlede is, het sy gereeld vir haar jaarlikse mammogram-ondersoek gegaan. Sy was
bedag op die tekens en het dadelik werk daarvan gemaak toe sy vermoed het daar is fout. Sy was gelukkig met die kanker wat
nie versprei het nie. “Ek kan nie genoeg vertel hoe belangrik voorsorg, nasorg en opvolgtoetse is nie,” sê sy.
“Ek het die Here dikwels gevra waarom hy my genees het en nie my kind nie, maar die Here het my gesond gemaak en daarom
kyk ek vorentoe en vertrou. Om ‘n bors te verloor is nie alles nie. Ek het ‘n tweede kans gekry, en daarvoor is ek die Here soveel
dank verskuldig,” vertel Bets.
Buite in die tuin by Sally Martin Park waar sy en haar vriende by die Houtlepel sit, sien jy die bome getooi met helderpienk strikke wat ‘n boodskap van hoop dra. Dit is deel van die Pink Trees for Pauline inisiatief vertel personeel van dié aftreeoord. ‘n Inisiatief wat in Graaff-Reinet begin is, maar ook hier deur Maureen Taljaard begin is. Vrydag het die personeel van Sally Martin Park self ook pienk gedra. So ook van die bejaardes, want Oktober is borskankermaand. ‘n Maand waarin bewustheid oor borskanker regoor die land geskep word.
Bewustheid, maar ook ‘n boodskap van hoop – hoop waaraan Bets en ander soos sy vashou.




* ‘n Senior Gesondheidsdag met die tema ‘Borskanker – die feite’, word op Dinsdag 29 Oktober om 10:00 in die Sally Martin Park-eetsaal gehou. Die sprekers is Lydia du Preez (geregistreerde verpleegkundige), en Annemarie Smit (staf-verpleegster).
Toegang is R10 en ligte verversings word bedien. Reël met Sally Martin Park se kantoor.



