Local newsNews

Ouditeur-generaal wys weer op geldvermorsing

Die volledige munisipale jaarverslag is nou op Ngwathe se munisipale webtuiste, en is ook vir insae beskikbaar in alle munisipale kantore en openbare biblioteke in Ngwathe.

Die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit se geldsake het die afgelope vyf jaar nie verbeter nie, blyk uit die Ouditeur-generaal (OG) se jongste verslag. Die OG het aan Ngwathe ‘n gekwalifiseerde oudit met bevindings toegeken wat een van die laagste toekennings is. Soos met vorige verslae wys die OG in sy verslag op geldelike vermorsing en wanbestuur.

Dit sluit in onbeholpe voorraadaankope, onvolledige rekords, foutiewe of geen fakture aan inwoners, verwaarlosing van bates, vrugtelose of vermorste besteding, en swak prosedures vir foutbeheer.

Die verslag wys onder meer op vrugtelose en vermorste uitgawes van R94m, en onreëlmatige uitgawes van R50m (waarvan R37.8m bestee is sonder mededingende aanbiedings). Daar is ‘n verhoogde kontanttekort van R62m ten opsigte van aanstaande jaar se R1.1 miljard begroting. Klem word ook gelê op uitgestelde eise van R18.8m teen Ngwathe, en krediteure wat nie binne 30 dae (soos wetlik voorgeskryf) betaal is nie, maar nou gemiddeld eers na ‘n verstommende 1 265 dae. Ngwathe samel ook net 50% van sy faktuurinkomste in, teenoor ‘n nasionale teiken van 95%. Die Ouditeur-generaal se verslag vorm deel van die munisipale jaarverslag. Dit is met die vorige maandeinde, soos deur die wet bepaal, deur Ngwathe se uitvoerende burgemeester, Victoria de Beer, in die Raad ter tafel gelê.

Raadslid Arnold Schoonwinkel, die DA se segsman vir munisipale finansies, sê die toestand van Ngwathe se geldsake kom as geen verrassing vir raadslede nie. Hy sê DA-raadslede waarsku lank reeds week na week hieroor.

Hy sê ook die krisis vererger, en is die DA van mening dat dit is omdat goed gekwalifiseerde persone dikwels nie in sleutelposte aangestel word nie, en omdat die wil oënskynlik ontbreek om wanbetalers en kragdiewe vas te vat.

Schoonwinkel sê die DA vra vir dringende stappe waaronder ‘n finansiële omkeerplan, wat nou ook ‘n aanbeveling van die OG is, asook streng finansiële beheer sodat onreëlmatige en vrugtelose uitgawes verhoed kan word.

Hulle vra ook dat amptenare wat by korrupte aktiwiteite betrek word, geskors en onmiddellik aangekla sal word, behoorlik gekwalifiseerde amptenare sonder politieke inmenging aangestel word, dat rekeningstelsels verfyn word, en agterstallige skuld ingevorder word. Verder wil die DA sien dat krag-, water- en afvaldienste koste-effektief en bestendig gelewer moet word.
Die volledige munisipale jaarverslag is nou op Ngwathe se munisipale webtuiste, en is ook vir insae beskikbaar in alle munisipale kantore en openbare biblioteke in Ngwathe.

Inwoners sal ingelig word oor die plekke en tye van openbare besprekings daaroor. Mense kan by die sittings hul vrae vra en standpunte stel oor die verslag

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button